Dié tyd van die jaar neem ek graag voorraad van die dinge wat die afgelope jaar gebeur het, ek sif deur als wat ek wil vergeet en onthou. Daar was ook ʼn paar kursusse waarvoor ek nie geregistreer het nie, maar nietemin het die onbeplande ook ʼn plek kom vind. Een van die kursusse (bygesê wat ek ook al ʼn paar keer van tevore liederlik gedruip, herhaal en gesleep het), is Bid 101.
Ek het weer in dieselfde slaggat getrap. Hierdie keer was die karakters en milieu net anders, maar die uiteinde bly tog dieselfde. Tyd vir bid. Kom ons vat hande, want hier is ʼn krisis om te bestuur. Ons bid vir x, y en z. Topklas bidders was genader, die wat ook die eretitel van “groot Christen” dra. Met daardie titel kan ʼn ou nogal verwaand begin raak, het ek al agtergekom. Nou ja, nie x of y of geen ander letter in die alfabet is gegee of uitgereik nie. Met ander woorde: Operasie misluk. Dit was vir my nogal ʼn vuishou in die maag. Hoekom dan al die selfvertroue onder die sogenaamde groot Christene? Hoekom dan “prys die Here” sê en ʼn stadige kopknip gee slégs as die gewenste uitkoms bereik is? Na “prys die Here” is daar gewoonlik ʼn tweede in die koor wat dit beaam met ʼn “God is goed”.
Ek was weer van vooraf deurmekaar. Bid en nog bid daarby gee vir my goeie resultate, maar wat as ek nie daarvan hou nie, hoekom help dit dan in die eerste plek om vir iets spesifiek te bid?
Ek het my dosente so deurgekyk en besluit ek gaan Bid 101 se klasse oorslaan en eerder by die fondasie begin waar dinge eenvoudig is.
Terug Bybel toe.
Die Onse Vader. Ja die einste wat op borde gedruk is, teen mure gehang het en wat ons as resitasie in die Sondagskool geleer het maar nooit die krag van dit besef het nie. Dit was nooit vir my lekker om dit op te sê so saam met ʼn groep nie, want dit het maar net soos iets gevoel wat ek moes doen, maar dankie tog daarvoor, want nou steek dit in my kop vas.
Na al die jare het ek vir die eerste keer aanklank by die Onse Vader gevind, dit was maar net nog altyd daar. ʼn Nederige gebed wat nie skree om raakgesien te word nie, wat nie die uitkoms hiet en gebied nie, net ʼn sagte herinnering dat niks oor my gaan nie. Maar as ek die Onse Vader opsê sien ek ooms in stywe pakke, grootmense wat kinders beloer met pieringoë om seker te maak hulle staan snaarstyf. So ek moes, ter wille van myself, dit so bietjie aanpas om makker te word vir hierdie groot, swaar gebed.
Die Onse Vader (oorspronklik)
Ons Vader wat in die hemel is,
laat U Naam geheilig word;
laat U koninkryk kom;
laat U wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid,
tot in ewigheid.
Amen
My Here (Elana se weergawe)
Here daar in die hemel en in my hart
Jy is baie heilig, dis te groot vir my om te verstaan;
dit sal lekker wees as ons eendag hemel toe kan gaan.
Help my om alles wat om my aan die gebeur is te aanvaar en nie te bevraagteken nie;
dit wat ek vandag moet doen, help my daarmee, want as ek iets alleen doen is dit een groot gemors.
Vergewe my tog groot asseblief, ek jaag heeltyd aan. En help my om ander te vergewe en sommer vir myself ook, dis moeilik.
Help my om te leer uit negatiewe dinge en aan te beweeg.
Niks is myne nie.
Ek het geen krag of mag nie.
Lief vir Jou
Amen
Nadat ek dit opgebreek het en in ʼn Elana-weergawe geskryf het, het die ooms se kerkpakke verdwyn en die tannies met die grootoë is ook weg, want hierdie gebed is nou my eie.
Ek het ook besluit om totaal en al te rebelleer en nie eksamen te gaan skryf vir Bid 101 nie, die kursus was van die begin af opgemaak deur mense en ʼn graad daarin gaan my nie veel in die sak bring nie.

