Ek wou jou al ‘n paar keer bel, maar veral vandag. Vandag wou ek vir jou sê hoe rof die jaar weggetrek het. Ek wou oor ‘n paar stupid mense afgepak het, ek wou vir jou vertel van my suurdeegplantjie wat nie wil lewe kry nie en die meisie het selfs ʼn naam, die kinders is happy, Paul is fluks en maak die winkel mooi en jou sign wat jy ontwerp het hang al. Ek wou vir jou vra vir idees wat ek kan kook, want ek voel al klaar gatvol vir my verbeeldinglose spyskaart en die huis se vervelige hoekies kort nuwe flair. Maar ek wou ook vir jou vertel dat ek trots is op myself want ek kan weer lees en woorde begin geniet en bietjie vergeet van die verlange, ek het plantjies by Ma gekry wat ek troetel, jou plantjie met die gate in die blare wat jy vir Ma gegee het groei oulik en ek bou puzzles saam met die kinders. Ek wou vir jou gesê het ons gaan Sondag weer ‘n draai met Mercia ry en dat ons uitsien. Ek wou vir jou gesê het ek kan al bietjie makliker slaap saans, maar ek word nog steeds angstig wakker.
Die painting wat jy vir my geverf het toe ek so alleen gevoel het, was veronderstel om my vriendin te wees, dink jy het haar Maryna gedoop. Ek het presies so ‘n geel rok gekry soos die een wat jy geverf het. Seker nie toevallig nie. Ek wou nog vir jou sê Jakkals Vibes irra my diep en dat Portchie op sy oudag besluit het om papierborde, legkaarte en servette vir die volk te gee. Dis regtig ‘n seer oog.
Ek het klomp foto’s by Wilmien gekry van ons kleintyd en dis lekker om vir jou te loer as ek werk. As ek my tweede koffie drink wonder ek elke keer hoeveel jy nou al sou drink en wat sou op jou lysie vir die dag gewees het.
Hierdie gestremde nuwe lewe is tog doenbaar, want ek weet jy wil nie terugkom nie, jou nuwe huis is te mooi en te lekker. So jou stukkies hemel wat jy agtergelaat het, al jou skilderye, onthou’s en geskenke is my rustigheid en die wete dat die malheid en lewe sonder ledemate iewers end sal kry.
Jy sou trots wees op Ben, hy het vir my ‘n bakkie chips gebring, want hy kon sien ek kon met ‘n soetding doen. Hy gee ook meer rugkrappies as gewoonlik en Jan se glimlag is sagter en sy geselsies is die kalmte self.
Die leemte wat jy los word gevul met klein kuiertjies. Vanoggend toe ek voor die puzzle kom sit, speel Alexa sommer ʼn Franse radiostasie en daar spring toe ʼn hele rits van jou liedjies op wat jy Sondae oor en oor gekyk het op die videomasjien. Daai tapes was gemerk en alhoewel ek ʼn paar keer al kinderstories bo-oor jou musiekvideo’s getape het, was jy nooit lank kwaad nie.
Ek sit met ʼn vrag stories en grappe waarvoor gʼn ander mens sal lag nie, ons humor het gevarieer van donker na pikdonker.
Ag Dirkie, ons was mos so simpel om ons begrafnisse te beplan. En alhoewel ons vreeslik gelag het daaroor het jou droomprentjie nogal baie spanning veroorsaak. Almal het ingespring en hul beste voetjie voorgesit. Ek het per ongeluk vieslik gelag toe die een lantern se bodem uitval en die bol vuur bly agter op die gras. Haai sies, dit was ʼn gewyde oomblik en toe sien ek vir jou wat bloedrooi staan en ruk van die lag en toe dink ek dis eintlik perfek, so ʼn lekker laggerige send off. Oor die baie huil en dramatiese oomblikke wat ook deel was van jou program hoef jy nie bekommerd te wees nie, ek dink dit was voldoende. Ons het net nie huilers gehuur nie, ons was die huilers.
Maar al my stories kan wag, want jy het beter dinge om nou te doen. Die naarkol maak plek vir ʼn rustigheid as ek hard konsentreer daarop. Ek is bly ʼn groot verlang soos hierdie is jou gespaar, jy is lucky.
Ek weet die hemel het goeie dekor, verf en ordentlike kwaste, want jy het nog nie teruggekom nie. Hang die plek vol chandeliers en gee raad daar, jy kan lekker spog eendag.


This Post Has 2 Comments
Oe wow, my hart het nou bietjie gehuil en bietjie gelag.
Ek verlang ook nou al rustiger, maar nie minder nie.
Elana hou aan om vir jou boetie te skryf. Skryf oor alles. Skryf wanneer jy hartseer is en skryf elke keer. Skryf wanneer 20 jaar verby gegaan het en jy weer hartseer raak oor iets wat klein en nietig is. Dit beteken baie. Meer as wat jy weet.