Van alle dinge in die samelewing wat verkeerd kan wees, is onregverdigheid die ding wat my die seerste maak. Ek kan nie my kop draai en ander pad kyk nie, ek wil iets doen soos om te skree op die idiots wat uitlatings maak waarvan hulle niks weet nie, of dalk met ʼn stoel gooi of as ʼn stoel nie naby is nie ten minste net ʼn lekker vuil kyk gee. Die samelewing het sekere rolle uitgedink wat gevul moet word en as iemand nie presies in die voorafgemaakte rol pens en pootjies pas nie, word die persoon uitgeskuif en met denkbeeldige klippe gegooi wat veel seerder maak as regte klippe.
Iewers tussen die klippe wat val is ek. Ek weet nie of ek klassifiseer as die immergewilde ‘normaal’ wat meeste na strewe nie, nie dat dit my pla nie, dis vir ander mense om daaroor te besluit as hulle ʼn etiket op my wil plak. Ek weet nie of ek ook dalk (volgens die Samelewing Wet, Artikel 3354) moet erken wie ek is nie. Dalk moet ek dit op skrif stel soos wat dit van gays verwag word.
Ek is Elana, ek is heteroseksueel, met ander woorde ek is aangetrokke tot die teenoorgestelde geslag. Daar is dit. Ek is nou uit die kas uit. My geheim is uit. Ek het nog nooit nodig gehad om dit te erken nie, want dit is so ingeweef in my DNA. Hoekom het ek dit nooit vir my ouers of vriende gesê nie? Want dit is mos die sogenaamde norm.
Kaste met slotte op is vir gays en hulle moet dit ruiterlik erken en in hul naastes se oë vir aanvaarding soek as hulle die slot wil breek en wil uitklim. Dan kom die vlaag van hartseer, want dis “anders”, “nie wat ons gewoond is nie” en “ʼn hartseer pad”. Dan kom die aanvaarding en die vreemde mense wat begin onttrek uit jou lewe omdat hulle nie kan assosieer nie. Eers nog later kom die deel waar die naastes aan die gay persoon bevry is van alle opinies van die wonderlike omgee-samelewing.
Die prentjie van pasteie en blomme wat in 1995 gestroom het na ons huis toe, toe my broer ook sy slot gebreek het, bly my nou nog by. Nuuskieriges kom simpatiseer. Saggies praat. Selfs die woord gay word met ʼn bietjie meer asem en minder volume gesê, want netnou gee dit aanstoot. Jy kan ʼn walgwors wees, geen filter voor jou mond hê nie, almal hanteer nes jy wil, maar as jou saak reg is met die Here kan jy net ʼn fist pump by die goue hekke gee en jy is gewaarborg om die hemel se poorte in te gaan. As jy ʼn saggeaard, sensitief vir ander se behoeftes is, ander bo jouself stel en stilstaan vir ʼn mooi sonsondergang, maar jy is gay, dan word jou toelating tot die hemel betwyfel en dit ontlok gesprekke, debatte en slim mense doen selfs navorsing en tydskrifte publiseer meningstukke om die publiek in te lig.
Ek het verskriklik baie foute, partykeer voel dit vir my ek het meer tekortkominge as meeste ander mense en een van my vele foute is dat ek nie sal skroom om nog ʼn oningeligte met ʼn ‘opinie’ vaarwel te roep nie. Ek kan nie die hele aardbol se lewendes aan die skouers skud nie, maar ek kan wel die paar wat my pad kruis laat gaan soos ʼn papierbootjie op die water. Ek sukkel om so mooi en liefdevol soos Jesus te wees, ek stoot eerder net die dom bootjies weg. Ek wil nie hoor hoe jammer jy iemand kry wat gay is nie, ek wil nie hoor of jy dink hulle hemel toe gaan of nie, ek stoot jou net liggies weg, want ek het niks om terug te sê nie.
Op daardie warm Saterdag in 1997 toe my broer my bel en die nuus aan my ook breek het ek en ʼn paar maatjies by die dorp se munisipale swembad gaan swem. Die seuns het moffie-grappe in die swembad gemaak en almal het gelag. Ek het nie. Ek was twaalf toe ek besef het hoe vreemd mense is en hoe gewild ‘normaal’ is, hoe groot die kloof is tussen hoofstroom en ranteier.
Dit sal dalk ʼn gesonde gewoonte wees vir elke persoon om iewers op ʼn stadium van sy lewe iets te erken.
Ek is Grietjie Koortsen en ek oordeel graag.
Ek is Juanita Stapelberg en ek is vals.
Ek is Rikus Moolman en is ʼn lafaard.
Ek eer elke ranteier, want hulle staan nie verniet op die rant nie. Hulle is daar om die rigting aan te wys en hulle staan hulle plek vol, al is hulle broos en blootgestel. Hulle harte is op hul moue, hulle leef in absolute eerlikheid. En omdat hulle eenkant sit, kan hulle met simpatie toekyk hoe almal in die hoofstroom mekaar aftrek en oordeel.
Al waarmee hulle reageer is: Liefde is liefde.

