Verlede week was ons by ouma Gloria se begrafnis, ʼn feesviering van iemand wat 96 jaar gelewe het. Iemand wat saggies en sonder te veel lyding die poorte van die hemel ingegaan het.
Ek onthou sy het my al ʼn paar keer omgekrap met die goed wat sy gesê het en die opinies waaroor sy sterk gevoel het. Een ding is seker: ouma Gloria het vir niks of niemand teruggestaan nie. Mens voel half bietjie pateties in haar geselskap, want “skrikkerig”, “angstig” of “bang” is nie woorde wat jy sou gebruik as jy haar wil opsom nie.
So tussendeur die geëet en kuier tussen al die baie ooms en tannies wat staaltjies deel en stambome uitlê, sien ek in my geestesoog vir ouma Gloria sit. Ek wonder wat sou sy sê van hierdie lekker kuier en al die mense wat van ver af gekom het. Ek dink sy sou geglimlag het en dan miskien tipies ʼn paar dinge te sê gehad het oor dié een of daai een. Ouma Gloria het haar spasie onder die son wat sy gekry het vol gestaan. Dis seker hoekom ek soos ʼn drol voel as ek aan haar dink, want dis iets waarmee ek nie baie goed is nie: die vol-staan-ding.
Ek sê jammer vir die ou aan die anderkant van die foon as ek ʼn voice note stuur, ek begaan almal dat hulle na hartelus voor my indruk in die verkeer, ek hou nie kop by ʼn vierrigtingstop nie, ek ry maar laaste en vat maar eerder die korsie brood vir my omdat die ander mense in die huis daaroor gaan kla.
Wat my die meeste irriteer van myself is dat ek myself inhou en kleiner maak om ander se gevoelens en ego’s te spaar. Dis seker nice van tyd tot tyd, maar dit kan nogal grens aan pateties.
Daar is ʼn stukkie aarde uitgesit net vir my. ʼn Plekkie onder die son. Elke negatiewe kommentaar of reaksie is soos ʼn anker wat my rem om vorentoe te beweeg. Dis soos ʼn slegte gewete wat my kom herinner en die aanvanklike idee bevestig dat ek nie eintlik kan of mag nie.
Ek skuur al langs die draad van my kampie wat ek gekry het om in te wei. Ek maak my hek oop en laat hol my eie skape uit en nooi ander dik skape om verder in my kampie te kom gras vreet.
Ek sê net partykeer hoe ek voel en maak dan dadelik verskoning daarvoor. Ek dink my drome is simpel en onbereikbaar en skuur dan maar weer verder draadlangs.
Ek is bang ek trap op tone en in die proses verlam ek myself en trap op my eie.
En by ouma Gloria se diens sit ek en kyk hoe die kis sak in die krematorium en besef dat hierdie vrou haar plek in die lewe volgestaan het. Sonder verskoning, sonder ʼn jammer, maar regop en trots. Party goed leer mens eers as ʼn siklus voltooi is en ʼn geheelbeeld gevorm kan word.
So dis dan seker tyd om ʼn tree vorentoe te gee en my plek te probeer vol staan. Ek weet nie eintlik hoe nie. Dalk moet ek begin deur nie jammer te sê as ek ʼn voice note stuur nie.

