Een tree terug

Die skooljaar het afgeskop en het alle verwagtinge oortref. My appelkar was weer flenters, want ek het mos alewig ʼn prentjie in my kop van hoe ek dink dinge gaan afspeel.

In my gedagtes: Ben glimlag mooi vir die kamera by sy tafel en gee vir my ʼn stywe druk. Ook in my gedagtes: Ben smul aan die appel wat hy goedgekeur het toe ons kosblikkos gaan koop het.

Realiteit: Ben wou hê ek moet so gou as moontlik van die toneel verdwyn en hom nie “soos ʼn babatjie hanteer” nie en die appel en bloubessies akkordeer nie eintlik met sy palet nie.

Afgehaal het ek maar deur die magdom kinders gestap en gaan loer of Jan sy klas opgespoor het. Blinkoog het ek vinnig nader gedraf om nog ʼn laaste drukkie te gee net om dun lippies te sien wat saggies sê: “Gaan nou asseblief”. Ek wou nog weer herhaal waar ek hom sou kry die middag, maar die ry het klaar beweeg en hulle het om die hoek verdwyn na ʼn plek waar ek nie weet waar nie.

Ek moet huis toe gaan en gaan werk en op my eie dinge fokus, maar my kop bly draai by die manne wat hul ma net selektief nodig het. Ek het gehoop dat hulle eers aan vier vingers, dan drie en dan later net ʼn pinkie sou klou, nie sommer net my hand afkap en wegstap nie.

Ek is gewoond daaraan om die regisseur te wees en leiding te neem van hierdie Barker-konsert. Almal moet herinner word aan alles, dit begin by die ontbyttafel en dit eindig as hulle hul koppe saans neerlê. Ek is vervang, uitgedien. Nou is my enigste plek agter die gordyn in die donker. Ek mag rekwisiete aangee, saggies fluister, kostuums gereed kry en tekste uitdruk. Dit wat aan die voorkant gebeur, het ek min tot geen beheer meer oor.

Die eweskielike posverandering het nogal as ʼn skok gekom, genade, daar was nie eens tyd vir ʼn kleedrepetisie nie, die show begin sommer net. Dit het my weer van voor af nederig en dankbaar gemaak. Ek is net ʼn stage hand in hierdie manne wat die hoofrolle vertolk. Ek moet net fasiliteer, nie afrig nie, nie die regie behartig nie, slegs van die kant af loer. As ek iets moet aangee soos ʼn pleister of ʼn snesie, moet dit byderhand wees, maar verder bly elke dag hulle verantwoordelikheid.

Die baie min tyd wat oor is met hierdie twee laat trek my maag op ʼn knop, veral as ek dit opbreek en dink hoeveel Desembers ons nog saam oor het. Maar vir nou moet ek net my plek as professionele stage hand volstaan en my net met vandag se dinge bemoei.

Daar gaan nog baie groot oomblikke wees en om ʼn tree terug te gee en dit van ʼn afstand te beleef, gee my eintlik ʼn mooier prentjie. Ek sal dit moet onthou vir die volgende kere.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply