Die afgelope jaar was soos ‘n ongenooide gas wat als kom deurmekaar gooi het. Wat is ʼn jaar sonder uitdagings, ʼn paar stampe en stote en lekker baie trane. Saam met al die baie dae se kwaad raak, weer bly raak, wonder oor dinge, uitsien na dinge en bang is vir dinge is my tenk van emosies nou leeg. My voel wil nie meer voel nie. Ons jaag mos op ʼn snelweg en elke dag is ʼn ander afrit met sy eie uitdagings: Jy moet vinnig oor ʼn ding kom of dit sommer onder die mat invee anders sit jy môre met ʼn groter perd wat jy nog minder kan opsaal.
Om eindelik genoeg tyd te hê vir eet, sluk, praat en slaap laat mens skoon simpel en onbeholpe voel. Dié dat ek nou besef ek staan nog steeds in ʼn swaar, oorgroot, nat jas aan my lyf. Al daai vinnige “kom oor dit’s”, “dis nie so erg nie’s” en “kyk noords” het almal kom vatplek kry en rem my nou af.
Dis mos maklik om woede te regverdig. Ek is baie kwaad, want daai poephol was aspris en weet dit was onsensitief. Ek is baie kwaad, want ek verdien dit nie, ek verdien beter. Ek is baie kwaad, want daar is te veel onregverdigheid om my aan die gang en dit maak my naar. Ek is baie kwaad, want meeste mense is vals en wil net pryse wen en vergeet waaroor dinge eintlik gaan. Ek is baie kwaad, omdat mense nie oper wil dink nie en in ʼn ry wil loop soos skape. Ag die kwaad-lys kan nog kinders en kleinkinders kry. Toe ek besef hoe verskriklik kwaad ek is oor baie dinge, besef ek hoekom ek so swaar voel. My kwaad maak my swaar, maar dit verander niks aan die kwaad-lys nie, dit bly ongestoord dieselfde.
Ek sal seker moet doen wat die Bybel wil hê ek moet doen en vergewe. In die spieël kyk en die kwaad weg praat of kyk, is makliker gesê as gedaan. Ek weet vergifnis sal soos ʼn uitveër die kwaad-lys leeg maak en my lasjas ligter maak, maar as ek my jas uittrek kan ek nie meer kwaad wees nie en dit gee my dan ʼn rede om kwaad te wees.
Dan dink ek weer aan die drolle vir wie ek kwaad is, wat nie weet hoe kwaad ek is nie. Ek klou eers weer bietjie aan my swaar jas. As ek nie meer kwaad kan wees nie, beteken dit dan nou ek moet oulik wees? Want ek wil nie.
As ek sonder my jas moet rondloop gaan ek niks hê om my op te pas nie. Die drolle wat my hart seer gemaak het, moet weet wat hulle gedoen het en dit mos elke dag sien en sleg voel. Hulle moet jammer wees, maar hulle is nie.
Hulle kan mos nie dink ek het hulle vergewe nie, netnou dink hulle, hulle kan wegkom met alles sonder ʼn straf. Netnou dink hulle wat hulle gedoen het is reg en aanvaarbaar. Wat as dit weer gebeur en ek sit sonder my jas?
Terwyl ek dit sit en dink kry ek warm, maar my jas kan nie af nie. Hy het deel van my geword. Wat as ek hom uittrek en ek stel myself bloot en ek kry net weer seer? Alles verniet, alles van voor af. Maar ek besef ook die jas raak net al hoe swaarder, te swaar vir my om te dra. Hy absorbeer alles wat kwaad is en kom klou aan my. Dis verlammend. Dit hou my op een plek.
Maar dis dan nou somer en ʼn dik jas is niks lekker nie. So ek gaan begrafnis hou vir die jas, dan gee ek darem bietjie erkenning in ʼn mate aan hom. Hy het sy gewig verdien, hy was ʼn goeie beskutting teen ekstra kwadegevoelens en dinge wat sterk op pad was om my om te krap. Hy verdien ʼn waardige begrafnis.
“Dankie my dik, swaar, kwaai jas. Jy weet hoe seer my hart is en ek kon my toevou in jou. Jy het my eenkant gehou in jou kokon sodat ek nie verder kon seerkry en nog kwater raak nie. Maar ek moet nou vir jou baai sê, want jy maak my kokend warm en ek wil ligter voel. Jy was altyd daar, maar ek sal jou moet laat gaan, anders kan ek nie met nuwe dinge begin nie. Jy hou my bietjie terug ou maat.
Rus in vrede hier.”

