Sê dankie vir die tannie

Ons ken hulle. Hulle is in ons strate, in ons families, hulle beweeg tussen die winkelrakke, by die skool, in die kerk en by restaurante. My oë het weer oopgegaan vir hierdie wonderbaarlike groep mense wat so stil-stil in die samelewing hulle ding doen.

Sondag toe ons in die kerk sit, sit ons op ʼn heel ander plek as gewoonlik. Die omgewing voel vreemd en die koppe voor my is moeilik om by verby te kyk. Ek is maar ʼn gewoontedier en dink by myself ons moet tog asseblief volgende Sondag weer op ons ou plek sit, ek kan die dominee lekker sien van daar af en dis ons plekkie. Die middelblok is nie ons plekkie nie. Die parfuum wat hier in die lug rond hang ruik anders, ek ken nie die gesigte nie, die hele atmosfeer is sommer net anders en eintlik voel ek bietjie soos ʼn immigrant.

Met die eerste liedjie waarmee ons wegtrek kom daar ʼn baie sterk klank van agter. Dis die klank van ʼn vrouestem wat hoë hoogtes kan inskiet met gemak. Die orkes is hopeloos te stadig vir haar en met haar luidkeelse lofprysing hoop sy seker in haar binneste sy kan bietjie die ritme aanhits sodat die hele gemeente haar kan volg. Eers wil ek vir Abrie in die heup tik en bietjie saam met hom giggel oor die luide voorsang, maar ek beteuel myself en gooi maar die gedagte eerder weg.

In my gedagtes het ek al vir hierdie vrou ʼn gesig en uitrusting geskep. In my geestesoog kan ek presies sien hoe sy lyk en soos wat die volgende liedjies gesing word, word haar gesig net al hoe meer helder vir my soos wat haar stem weer eens die voortou neem met die sang. Wie ook al die komposisie gedoen het vir die musiek het nie ʼn idee wat hulle gedoen het nie, want die vrou agter my is doodseker daarvan dis te stadig. Party van die Engelse woorde spreek sy verkeerd uit, maar sy doen dit nie met minder sekerheid in haar stem nie. As hy verkeerd uitkom kom hy verkeerde uit en sy gaan net aan. Hierdie is ‘n soort selfvertroue om van kennis te neem. Iets wat ek heeltemal aan tekort skiet.

Die preek het begin en kort-kort beaam sy iets waarmee sy volkome in haar hart mee saamstem. Ek is heeltyd bewus van haar hier agter my en ek kan my nuuskierigheid nie meer hou nie.

Toe die diens verby is en ons verdaag, draai ek vinnig om om te kyk of die prentjie in my kop ooreenstem met die ware Jacob, maar ek sien net haar rug en ʼn arm wat ʼn vet boepens handsak vasklem. Haar man stap langs haar en sy het by hom ingehaak met haar ander arm.

Voorwaarts mars, dink ek. Op pad na nog ʼn plek waar sy dinge doen soos wat sy dit wil doen, sonder om enigsins beïnvloed te wees deur wat ander sê of dink. Dalk gaan sy nou ʼn Sondagmaal vir haar mense voorsit, dalk wil sy gaan uiteet, dalk is sy lus om bietjie ʼn swembroek aan te trek en te bak in die son met ʼn wyntjie in haar hand. Maak nie sak wat haar volgende plan van aksie is nie, sy gaan dit beslis met dieselfde oorgawe doen as wat sy in die kerk gesing het.

So baie vrouens wil nie tannies wees nie. Tannies is outyds en weet niks van die nuutste modes af nie. Hulle praat nie meer soos die jongmense nie, hulle praat hul eie taal. Hulle is al deur hordes seisoene van diëte en kan vandag net volkome hul lywe aanvaar. Hulle is deur ʼn magdom modes en hul fotoalbums kan getuig daarvan, maar vandag weet hulle wat is vleiend en wat lyk beter aan ʼn Barbie-pop. Hulle harte is deurwinter en het al baie tienerbakleiery, dood en siekte beleef, vandag weet hulle die lewe is kort en dat alles net ʼn genade is. Hulle kombuise is nie meer volgens die nuutste trends nie, maar uit die laaie peul staatmaker resepte wat vandag se Woolies-mammas nog nooit van gehoor het nie.

Die tannie stap trots langs haar man uit by die kerk. Buite maak sy vir haar ʼn teetjie en groet ʼn paar bekende gesigte. Sy het nie ʼn woord met my gepraat nie, maar ek hou van haar. Sy is nie bang nie en doen dinge op haar stil manier soos wat sy voel die beste is, en dis al wat saak maak. Ek hoop ek kan ook eendag ʼn regte egte tannie wees wat dinge doen sonder om oor my skouer te loer. Ek het nog ʼn ver pad om te loop.

Dankie tannie.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply