Amper klaar met die tweede maand van die nuwe jaar en dit voel soos middel November. Nog voor ek ʼn nuwe dagboek kon koop, of ʼn oulike glasbottel in die kombuis sit waar almal hul drome op papiertjies kan skryf en ingooi of ʼn laai uitsorteer en net weer al die bolle wondergom bymekaar maak in die huis, kabels by kabels, halwe potlode in die skryfbehoefteboks en ander wonderlike rondlê items weer sit waar hulle hoort, het die hoë gety ingekom en alle goeie bedoelings kom wegspoel. Ek wou die jaar grasieus ingaan, soos ʼn tannie op die strand met ʼn lang chifon sjarong oor haar eenstukswembroek met ʼn breërand hoed, maar die toneel wat eerder by my opkom is een van ʼn meermin op dwelms vol seewiere en ʼn bikini-toppie wat ver op die horison dryf met niks om haar skaamte mee te bedek nie.
Verbasend hoe ʼn onderstebo begin my nog steeds kan verbaas. Ek het darem al 38 keer die begin van ʼn nuwe jaar beleef, mens sou dink dat met ʼn bietjie repetisie ek nou al teen die tyd weet hoe die lewe sy gang neem, maar helaas.
Ek sukkel om tot verhaal te kom dat my planne alles aan flarde is en dit nie eens help om die stukkies op te tel nie, want die see het al klaar weer alles ingetrek en versprei oor die aardbol se watermassa. Ek moet wraggies nou met hierdie sirkus deal, want om dit te vermy sal wees soos om in ʼn boom vir ʼn luiperd weg te kruip: Dis net ʼn kwessie van tyd.
Vinnig moes ek leer om nog ʼn prop ook by die moerkoker se gat in te druk en te keer dat die stygende emosievlakke oorspoel na die kinders toe. Dit het wel ʼn paar keer gebeur en hulle het my vinnig reggehelp en gesê ek is onregverdig.
Ek het maar joga probeer om darem een keer ʼn week vir ʼn uur lank net op my eie asemhaling te konsentreer en slegte gedagtes uit te strek. Ek moet sê alhoewel die agtergrondmusiek meestal lopende water is en dit my blaas onmiddellik vol maak, werk dit. Meer suurstof in, meer koolstofdioksied uit. Meer rustigheid in en groter skeppe angs uit. So karring ek en die jogavrou om weekliks my tenk eers leeg te maak, skoon te maak en dan weer vol te maak. Haar sagte stem, geduld en herhaling en ʼn refrein in my gedagtegang begin word. Ek erken ʼn slegte gevoel as ek hom sien, maar ek kan hom nou al saggies laat gaan.
En is daar Jan: die logiese, analitiese en anderster-om denker. Hy raas met my as ek frons, hy spreek my aan as my gedagtes dwaal en hy tik my oor die vingers as ek ʼn ongeduldige antwoord uitblaf en nie mooi saggies praat soos ʼn storieboekmamma nie. Hy praat saggies as my kop seer is en raas met Ben en vra hom om nie te sing nie, want “jy gaan vir Mamma pla”. Abrie lewer ook ʼn bydrae sonder dat hy dit dalk besef. Die feit dat hy op 10 goed gelyk fokus en dus nie ʼn groot ophef kan maak oor ander eksterne dinge om hom nie, maak dat ek baie vinnig besef ek sal myself moet regruk, want ek is alleen in hierdie ding en iemand moet nog Checkers toe ry vir inkopies en dit gaan nie die persoon wees wat reeds 10 take het om gelyk te doen nie. Ben stamp ʼn donker wolk van angstigheid baie vinnig weg, want in sy wêreld kan mens alles reg speel, reg inkleur of reg kielie. Die knaap is regtig snaaks en weet net hoe om met sy gehoor te toor vir maksimum vermaak.
Dan is daar natuurlik ander wat na hoër golwe en groter berge staan en kyk en dan lyk myne sommer dadelik soos ʼn klein kabbeltjie wat ʼn klippie in die water gemaak het. Ek raak onmiddellik skaam en bly tjoepstil oor die simpel goedjies wat my ontspoor.
My drie manne help, sagte musiek help, koffie help, wyn help, die jogatannie help. Ek moet net nie my kompasse miskyk wat vir my gegee is toe die rowwe wind my padkaart kom wegwaai het nie.

