Die vakansie is amptelik verby. Daar was ʼn halwe skoolweek om dit te prosesseer, maar nou moet alle trane afgevee wees en sokkies moet opgetrek word nie. Ek het nog nooit van opgetrekte sokkies gehou nie, dit skree “pliggie”, maar nou moet ek die illusie van pliggieskap skep om ʼn voorbeeld te wees vir twee gesiggies wat my dophou. As dit nie vir hulle was nie, sou ek nog wonde gelek het en met diep asemteue die verte ingestaar het en mooi herinneringe oproep van alles wat ons beleef het in Botswana, wat nou eweskielik baie lank terug voel.
Die moets en moenies het weer kom kuier en daar is heelwat van hierdie outjies. Hulle daag net op soos ongenooide gaste en kom maak hulle tuis en spring op ons beddens en ruk die koskas oop. Die rapporte het weer die rondte gedoen en ek moes myself weer baie mooi herinner dat ʼn stukkie papier min tot geen refleksie is van vermoëns of identiteit. Advertensies is weer ʼn verpesting en almal wil famous en maer wees. Kitsoplossings vir ʼn gesonder leefstyl, tuin, verhoudings en ouerskap flikker op my foon. Alle liniale en ander meetinstrumente staan weer slaggereed om te kyk wie waar inpas en te klassifiseer. Dis maar die dinge wat gedoen moet word om ʼn groot gros mense op die aarbol deur die drukgang te kry. Daar is nie ʼn ander manier as om mensgemaakte standaarde te hê en daarvoor te werk nie.
Toe ons vir tien dae geen sein of krag gehad het nie, net eindelose mooi uitsigte en jakkalsies wat snags skaam agter die bosse vir ons kom hallo sê het, was daar ʼn tevredenheid en ʼn gevoel van genoegdoening wat mens nie in ʼn lawaaierige plek kan ervaar nie. Om saam planne te maak oor hoe ons ys kan maak, ons kosvoorraad te rek of ons brandstof en daaglikse draaitjies te beplan is maar ʼn paar van die eenvoudige dinge waaroor ons meeste van die tyd gesels het. Terug in die geraas en gejaag en die eenvoudige bekommernisse wat ons gehad het, het so bietjie meer ingewikkeld begin raak.
Toe ons tussen niks en nêrens was, was dinge eenvoudiger en nou begin sukkel ek weer om alles om my mooi te verstaan.
Juis vanmiddag voel ek weer ʼn warmte in my woel en was ek op die regte temperatuur om ʼn paar eiers te kan kook toe Jan weer begin afdwaal in huiswerktyd. ʼn Vinnige badkamerbreek het uitgeloop op ʼn heerlike uitstappie na ʼn ander planeet ver hiervandaan. Met groot oë roep hy my om deur die venster te kyk na die tuin. Ek sien die bome en gras. “Dis oulik, kom ons gaan werk”. “Mamma kyk nie mooi genoeg nie. Imagine ons bly eintlik op ʼn skilpad se rug, dit sou cool gewees het nè.” Net daar besef ek weer eens vir die hoeveelste keer ek het onnodig begin jaag. Die wêreld jaag, maar ek hoef nie. Die wêreld skep standaarde, maar dit hoef nie vir my te hoog of te laag te wees nie, ek kan sommer net die hele ou liniaaltjie in die asblik gooi.
Ons kan nie wag tot dinge om ons rustig raak voor ons kalm in ons binneste is nie, ons moet eenvoudig net die handrem in die middel van die storm optrek en ons verbeel ons bly op ʼn skilpad se rug.

