Soms verloop alles seepglad in ʼn huishouding en dan kan mens amper nie dink dat iets ooit skeef geloop het nie. Tot dit skeefloop. Ek verpes die verandering wat seisoene meebring. Spesifiek herfs. Die lente is vol nuwe beloftes. Maar herfs… Ek besef dis nou tyd om tot ruste te kom en sop te maak, maar die blare woed nog my siel deurmekaar en ek weet nog nie hoe om aan te trek nie en dit maak nie net vir my nie, maar ook die ander huismense onderstebo.
Ek hou van verandering wanneer ek voel dis tyd daarvoor, nie as dit onverwags kom nie. Dan val die appelkar om, die honde hardloop in die straat af en ek weet nie of dit ʼn openbare vakansiedag of ʼn werksdag is nie.
Klein goedjies wat inmeng met die kalender soos ʼn kind wat uit die bloute besluit om skaak te doen, of ʼn lysie vir my teken met prentjies op van goed wat ek in die dorp moet kry vir ʼn rits eksperimente laat kraak ʼn baie delikate program. Dit is amper soos die ou televisies wat eers ʼn hou langs die kant moes kry voordat jy verder Sonkring kon kyk.
Ek het gehoor gegee aan die klein goedjies, maar nou is ek moeg. Moeg rondgehardloop, moeg gesmeek, moeg gesukkel dat die basiese dinge steeds kan gebeur, soos om ʼn broodjie te kan eet. Ek wil ʼn spaar brein hê wat ek kan afskroef en herlaai en ʼn nuwe vars een aanskroef. Want behalwe vir korttermyn uitdagings is daar die ewige toekoms wat my skuldig laat voel omdat ek nog nie so ver gedink het daaroor nie.
Die vergelyking van glas balle word nogal gereeld gebruik om uit te wys hoe belangrik verhoudings is. Dis balle wat kan breek as dit val. Werksballe is eintlik die rubber balle wat weer sal terug bons. So as die huiswerksakkie finaal toegerits word, word die Ben-bal opgetel, maar dit bly voel of die konfyt nie eweredig versprei word nie.
Met ʼn lyf, wat nie meer soos my eie voel nie, soen ek hulle nag. Ek hoop en bid altyd dat die groet lekker vinnig sal wees, maar 8 uit die 10 kere word ek teruggeroep vir ʼn gewigte saak. Ek moet dit tog eendag vir die Here vra as ek dit maak tot in die hemel. Hoekom op dees aarde wil kinders oor moeilike goed praat as mens dom is van moegheid?
Vanaand is ek weer teruggeroep. Jan dring aan daarop dat ek vir Rikus (ons plaaslike tandemuis) ʼn lui gee en hoor wanneer kom haal hy die donasie wat hy vir hom in die koevert gesit het. Rikus trek maar finansieel taai en Jan voel hy moet die muis bietjie las. Ek maak verskoning en belowe ek sal vir Rikus laat weet hy moet ʼn draai by ons kom maak. Ek staan op en soen weer nag.
By die deur word ek weer teruggeroep. Ek is nie lus nie. Ek wil lekker gaan stort, ek soek my jamies, ek wil ʼn glas Coke drink en lekker burp. Nou wil Jan weet of Kersvader eintlik ʼn fake is. Sonder om te skroom sê ek ja. As hy weer verjaar is hy darem al 10, so ek moet hom nou seker begin hanteer soos ʼn cool cat. Ek het gedog my antwoord sou hom gerusstel, maar ek sien die trane begin dam op. Dadelik keer ek en verduidelik dat mense hierdie storie vertel vir kleintjies om in die magic van Kersfees te kan glo, maar hy weet mos waaroor gaan Kersfees eintlik. Vinnig soen ek hom nag en trippel uit.
ʼn Stort en jamies is nie nou vir my beskore nie, want weer moet ek teruggaan. Ek vloek saggies. Jan wil weet wat dan van al die briewe wat Kersvader geskryf het, is dit dan ook fake? Die kind wil nog in magic glo, wraggies. Daar is nog ʼn laaste bietjie van kleinwees oor en ek moet dit koester. “Ja”, sê ek “nou dat jy dit noem, dis nogal weird, ek het nog nooit so daaraan gedink nie.”
Saam het ons besluit dat daar ʼn magdom fake Kersvaders is wat se rekke en gewone klere uitsteek, die regte een bly mos in die Noordpool. En vanaand kom haal Rikus sy donasie omdat daar nou ʼn lang ruk nie vir hom tande was nie.
Ek is sat, maar ek sal moet mooi trap en saggies werk met die glas balle wat mooier dinge sien as wat ek sien. In hulle gedagtes hou beertjies piekniek en bou ʼn boomhuis, werk die regte Kersvader onverpoosd om briewe te beantwoord en staan Rikus met ʼn R20-noot in die hand in sy karige gemeubeleerde huise.

