Partykeer wonder ek hoekom ek dink ek kan nie en dan haal ek my lysie uit wat ek saam met my ronddra om myself net weer te herinner: Nee, jy is te oud; Vergeet daarvan sussa; Jy gaan jou naam vergat; Wat is die kans?; Gaan net aan met jou lewe en hou op droom; Daar is nie tyd nie; Daar is nie geld nie; Dit wat jy wil doen gaan nie ʼn verskil kan maak nie; Jy het nie genoeg outoriteit nie.
My ander kort lysie wat met die lang lysie moet baklei is heelwat korter en in ʼn bewerige skrif geskryf: Probeer net; Jy weet nooit; Vat ʼn kans; Jy kan altyd leer uit jou foute.
Gedurig die ewige tweestryd tussen die lang, selfversekerde lysie en die kort, bangerige lysie. Die groot geveg tussen wil en kan, tussen moontlik en onmoontlik, rasioneel en irrasioneel.
Wat ek wel agterkom is dat die klein vlerkies agterop my rug nogal groei as dit sagkens hanteer word en hoor dat hulle ook kan vlieg, al is hulle klein. Dis nou nie hoogheilige engelvlerke nie. Hierdie is sommer net die soort vlerke wat die spoed bepaal waarmee mens na die volgende dinge kan beweeg wat soms so onbereikbaar voel. Dis nie wit vere wat ʼn hoë boog bo maak nie. Dis sommer net sulke kort mossievlerkies wat darem die naam van vlerk het, maar meer na uitgroeisels lyk.
Onwetend dat hulle vlerkknippers is, is daar vlerkknippers daar buite. Hulle weet nie hulle is met skêre in hul hande gebore nie, maar hulle hou van knip. Hulle hou nie van ander vlieërs nie en probeer ander vlerke so kort as kan hou, sodat niemand by hulle op die tak kan kom sit nie.
Dis my eie skuld dat ek dit toelaat en my ore uitleen aan die vlerkknippers. Dié dat ek nou sit waar ek sit. Maar darem weet ek nou om uit te kyk vir skêre en dit te sien vir wat dit is. Bly weg van vlerkknippers en omring myself met vlerkgroeiers, dis wat ek moet doen.
Vlerke is ledemate wat so afgeskeep en afgesny kan word dat mens dink jy het dit nooit eens gehad nie. Ek kan nie sien wat op my rug aangaan nie, daarom het ek ander nodig wat my vlerke help groei.
Woorde wat knip kan tot op die been afknip. Dit maak die lang lys van twyfels langer en die kort lys nog korter. Woorde wat bemoedig is die wind wat vorentoe stoot deur al die twyfels wat die lang lys uitlig.
Ek is versigtig as my kinders ʼn skêr vashou, want dit is net vir papier bedoel.

