Dit is Maart. Dit is regtig al die derde maand van die jaar, alhoewel dit soos November voel, alhoewel ek nog nie balans kon vind tussen werk en huis nie, alhoewel so baie ongedaan is. ʼn Nuwe jaar moet minstens twee weke se meet en pas kos en dan moet daar weggetrek word met ʼn vaart. Wel, hierdie jaar is daar beslis weggetrek, maar daar is dinge wat my dwing om nie te ver vorentoe in die dagboek te blaai nie. Onverwagse goed, hartseer goed en onvermydelike goed wat opgeskiet het. Dinge wat nie deel van my beplanning was nie, het gebeur. Eintlik, meeste dinge tot dusver was nie deel van die beplanning nie en dit het steeds gebeur.
Eers het ek gedink ek is ʼn ewige swakkeling om my te laat mee sleur in dinge om my en nie voort te stu met ʼn strawwe en streng program nie. Ek hoor soms toevallig van ʼn toets wat die volgende dag geskryf moet word, ʼn vergadering waar ek moet wees of ʼn afspraak met ʼn vriendin. Maar soos wat elke dag se herinneringe opduik en vir daardie dag sorg, het ek dit darem al gemaak tot by die derde maand van ʼn nuwe jaar. ʼn Dag-tot-dag-bestaan. ʼn Lewe waar ek nie ver kan kyk nie, daar waar dit dof is, is in elk geval nie antwoorde nie. Net hier, waar ek nou staan kan ek doen wat ek kan met wat ek het.
Alle seer word by die Here se voete neergelê. Partykeer herinner ek Hom, want ek is bang Hy vergeet van my. Maar dan jaag ek weer op pad skool toe verby ʼn turksvy wat nes ʼn hartjie lyk of hoor ʼn mooi liedjie wat my uit my gisters na nou toe trek en dan besef ek, daar moet definitief ʼn gewerskaf agter die skerms wees waarvan ek nie weet nie. Ek kry solank klein boodskappertjies om te kom sê: “Bietjie geduld asseblief”.
Ek is maar ʼn agie van natuur en wil graag weet wat aangaan en hoekoms vra. Gʼn wonder my ma-hulle het kleintyd al vir my gesê ek hou te veel vergadering nie, ek het hulle seker maar bietjie moeg gemaak. So vir ʼn agie om te aanvaar dat daar dinge is wat ʼn agie nie mag weet nie, is swaar. Om ʼn hartjie turksvyblaar te vat vir die dag voel ʼn bietjie te min. Ek wil meer weet sodat ek beter kan verstaan. Ek wil weet hoekom mense swaar kry, seer kry, seer maak en siek raak. Maar sodra ek weer begin snipperig raak, kry ek weer ʼn klein kabouter wat na my toe kom hol met ʼn dringende blom of liedjie as troosprys om te pleit dat ek net nog ʼn bietjie sal vasbyt.
Ek word soos ʼn celeb in ʼn restaurant hanteer wat kort-kort ʼn krommerige kelner kry met nog ʼn drankie om my gerus te stel dat die volgende dis nou op pad is en dat die sjef my binnekort gaan kom spreek.
Ek het my goeie aandeel aan skryfbehoeftes spandeer om kleurkodes te maak, alle weke tot die sekonde te beplan, selfs ʼn aparte kalender vir spyskaarte en inkopies. Maar die oop dele is meer as die dele waar daar iets geskryf staan en dis daardie onverwagse dae wat ek iets anders beleef het as beplan. Hoe meer onbeplande dinge begin gebeur, hoe nader kyk ek om my. My mense, my huis, wat ek kan doen, wat ek eerder nie moet doen nie, wat ek beter kan doen en waarvoor ek elke dag moet dankie sê, want ek het vandag gekry, maar môre is nog nie hier nie.
Ai, en dan kry ek nog steeds kelners tussenin om my te paai met ʼn ietsie hier en ʼn ietsie daar. Ek sal my wat verbeel. Die Here is besig met dinge hier voor en daar ver en tussenin moet Hy my met koekies gooi om my tevrede te hou.

