Hondehart

ʼn Derde van die jaar is verby en as daar nou voorraad moet geneem word, het ek regtig nie veel om te wys nie. Op my lessenaar lê penne, ʼn mondeling wat geleer moet word, ʼn oop dagboek wat ek van Januarie af met kleurpenne versier het maar nou weer net met ʼn minmoeite pen in skryf. Ek sus my gewete deur te lees, so die boeke op my rak is darem ʼn karige bewys van dinge wat afgehandel is die jaar, maar veel meer as dit is daar nie.

Daar is seker mense wat onverwagse vinniger prosesseer, maar ek werk nog aan daardie tekortkominge van my. Ek loop draaie om my skryfblok, want gewoonlik is dit die plek waar ek my gedagtes orden en weer sin maak van ʼn paar dinge, maar ek kom net nie op die einde van die koekspul wolle in die mandjie af nie. Dit voel of teleurstellings nie ʼn einde het nie, slegte nuus net slegter word, mense wat teleurstel kan teleurstelling na die volgende vlak neem en donker donkerder word.

Ek wil net my wolle oprol en netjies bêre sodat dinge nie so uitrafel nie, maar ek kan nie moeilike dinge vir slim mense vra om te help ontlont nie, hulle gaan net slim antwoorde gee, daarom neig ek na die teenpool: Honde. Stilte, warmte en ʼn kyk met begrip is meer as genoeg.

Hondeoë bedaar ʼn storm in ʼn hart en dis juis toe ek een oggend weer diep in hondeoë gestaar het wat ek tot die besef gekom het wat mooi werklik is.

Om stil te kan wees, sonder onnodige woorde, genees en dit is mooi. Om raak te sien wanneer jy kyk, raak ʼn hart meer aan as ʼn Hallmark-kaartjie. Dit maak ʼn hart wat bewe van angs weer rustig en dit is mooi. Om trots te wees op jou letsels op dieselfde manier as wat jy trots is op jou nuwe haarstyl of ryding, maak jou eg en verdryf alle maskers en ander kan nader skuif, want hulle kan vereenselwig. Dit is mooi. Om uit te deel en dan dadelik daarvan te vergeet (nogal baie soos ʼn hond). Om aan ander te gee is om hulle spesiaal te laat voel, nie die hande wat dit doen nie. Dit is mooi. Om altyd liefdevol en opgewonde te wees vir ʼn nuwe dag met nuwe geleenthede is nie maklik nie, party dae is dit een voet voor die ander en ander dae is dit ʼn drafstap. Die proses om vorentoe te beweeg ten spyte van, is mooi. Honde vergelyk ook nie hul blawwe, pille, jassies, kosbakke of pelse met die bure sʼn nie, dis mense wat so verspot is. En as daardie speletjie eers begin het, steek dit ʼn hele straat aan.

Een ding is seker en dis dat alles wat gebeur onseker is. Daar gebeur genoeg onverwagse dinge wat bootjies laat kantel. Maar met die hart en moed van ʼn hond kan mense mekaar se laste ligter maak en dalk, net dalk, skemer ʼn bietjie deernis deur.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply