Soos ‘n kind

In ʼn gejaagde lewe is dit maklik om die kernwaardes van die lewe te mis tussen al die tydgleuwe wat vooraf geskeduleer is. Vanoggend was ek bederf met die stil wete dat goedheid nie uitgesterf het en net in ou stowwerige boeke opgesluit lê nie. Goedheid is so naby soos die persoon langs my.

Iewers langs die pad van grootword kom kry peslike dinge, soos ego, vatplek aan ʼn grootmens se vel. Eiegewin, hebsug, jaloesie en obsessie raak so deel van ʼn mens dat dit later ekstra ledemate word. En dan bly mens maar so, want mens is dan so. Dit raak ʼn lelike gedoente en dan is die strate eintlik net vol gillende, afkop grootmense wat kwaad is oor als en hulle jaag ook nog daarby.

Ek was nie dik van die lag oor vanoggend se entrepreneursdag by die skool nie. Ek het nie uit die bed opgevlieg en gedink ek gaan die dag aangryp en myne maak nie. Ek het sleepvoet pap gaan maak, ek was moedeloos nog voor die dag sy kop uitgesteek het. Ek moet almal se verskillende wakkerword-roetines en die horlosie wat aanstap bestuur. Ek mag nie histeries raak of selfs aanmaan nie, ek is wel al oor hierdie krete oor die vingers getik, daarom moet ek tyd vir stadig en tydsaam klaarmaak ook inwerk en almal glimlaggend inwag by die ontbyttafel. Opdragte mag nie op hulle neerreën nie, verkieslik geen, want niemand hou van bevele en vroeg opstaan nie. Met aangeplakte positiwiteit het ons die dag begroet en stalletjie opgeslaan in ʼn geniepsige koue wat enige humor en vriendelikheid wegdryf.

Vinnig is Ben se produkte uitverkoop en die bandanas wat hy verkoop vir die Eben-fonds vlieg nie van die rak af nie, want meeste kinders het óf nie die volle bedrag van R120 nie óf nie ʼn kaart nie. Ben het breëbors gestaan en wag dat mense by hom moet kom “tap” want hy is die eienaar van ʼn kaartmasjientjie.

Toe ons begin dink aan oppak, kom ʼn gawe stil seun na my toe en vra wat kos ʼn “buff” en toe hy besef hy het nie genoeg geld nie, keer dit hom geensins en hy bied toe sy laaste R 40 aan as donasie. Ek was uit die veldgeslaan dat hy dadelik so ʼn blink en mooi gedagte kon kry. Dadelik het hy nog maats aangeraai om dieselfde te doen en binne ʼn oogwink was daar ʼn hele groepie kinders wat saamdrom om hul laaste bietjies vir Eben te skenk. Die seun het later helpers gekry om in ander rigtings te gaan en om elke kind wat bietjie rondstaan te vra om ʼn donasie te kom maak. Hy het selfs twee keer ʼn afkondiging gaan insit om die boodskap hard en duidelik oor te dra.

ʼn Piepklein dogtertjie het haar klein handjie oopgemaak en haar bruin geldjies in Eben se boksie kom gooi. ʼn Ander dogtertjie het elke keer nadat sy iets gekoop het, haar kleingeld in die boksie gaan sit. ‘n Seuntjie het ‘n plastiek bootjie by Ben gekoop en dit ook in die donasieboks gesit.

Die gewoel het nie opgehou nie en niemand was geïnteresseerd in ʼn produk wat hulle kon koop nie, want hulle het geweet hulle geld is nie genoeg nie, maar dit wat hulle het, sal hulle weggee.

Kinders het hul beursies letterlik kom uitskud en seker gemaak daar is nie dalk ʼn verlore muntstuk iewers in ʼn gleufie nie. ʼn Meisie, ʼn ander stalletjie-eienaar, het daar en dan besluit al haar wins gaan ook na Eben en voor die klok kon lui vir uitkomtyd is dit reeds oorbetaal.

Ek was bietjie in hierdie weldoeners se pad en moes so bietjie terugtree om vir hulle plek te maak om hul donasies te kon kom deponeer. ʼn Warm oorweldigheid het my beetgepak op die ysige oggend. ʼn Totale verslaentheid om eerstehands te beleef wat die Bybel probeer tuisbring met die storie van die vrou wat haar laaste bietjie reukolie gebruik het om Jesus se voete te kon was – het my getref tussen die oë.

Daar is nie ego’s, eiegewin, hebsug, jaloesie en obsessie nie, net liefde in sy suiwerste vorm. En as mens so naby aan iets heiligs kom, dan loop trane spontaan.

Met voete wat minder sleep daag ek op by Plaasjapiedag om 09:00 by Jan se skool en vertel vir Jan hoe dierbaar die kinders was en hy lyk heel in sy noppies. Toe ons ons worsbroodjies sit en eet vra ek hom uit oor die maatjie wat eenkant loop met die oorfone op sy kop. Ek wonder of hy dalk skaam is en of die ander hom nie dalk spot nie. “Nee”, sê Jan. “Hy hou maar net nie van harde geluide nie”. En toe moet ek weer trane sluk, want saam met daardie mooi dinge wat uit liefde vloei is daar nog een wat by die lys kom: aanvaarding.  

Facebook
WhatsApp

This Post Has One Comment

  1. Ansie

    Watter lieflike beskrywing van ‘n wonderdag!

Leave a Reply