Om ‘n draaitjie te ry

Ons was die vakansie op nuwe paaie. Meeste van die kere ry ons verby bekende bakens en ons weet wanneer om die volgende dorp te verwag en waar die diere vry oor die pad loop. Hierdie keer was anders. Ons het hoegenaamd niks van enige dorp of pad geweet nie. Met ʼn koffiebottel en ons boek wat die geskiedenis van elke dorp vertel en al ons warm klere het ons weggetrek.

Net agter die Drakensberge het ons eers deur ʼn stuk van die Vrystaat gery tot ons in die Oos-Kaap geëindig het. Agter die berg is daar ʼn kalmte, spoed bestaan nie en mense ken hul bure. Die diere se pelse is dik en wollerig, oral is ʼn stuk berg in ʼn foto en die plaasopstalle se prentjies word almal afgerond met ʼn groot dam. Die wêreld is in lagies van karakter gepak soos elke generasie iets byvoeg tot die omgewing. Almal moes leer om die weer te lees en om te weet wanneer om nie skape te skeer nie, want dit gaan binnekort sneeu. Die natuur het almal geskool en selfs die ateljee-eienaar op Rhodes ken die gevaarliker dele op die bergpas en as dit onheilspellend warmer word dat daar moontlik in die komende week weer dik sneeu gaan lê. Die tuine kry swaar, maar is aangepas. Sodra die kleinste bietjie son sy kop uitsteek stoot daar weer nuwe lewe uit. Al is dit ysig koud en al waai die wind jou kar se deur amper uit sy skarniere op die berg, is dit ʼn warm wêreld. Tyd staan stil. Jy rus, jy eet, jy lees, jy praat.

Ek wou ʼn paar keer as ons om ʼn nuwe draai kom en ʼn nuwe skildery of ʼn nuwe langhaar bees sien vir my pa ʼn foto stuur. Ek dink hy sou ook vir die beeste wou name gee en hulle almal wou troetel. Ons het ʼn draai gemaak op skoonpa se oom se plaas en die nuwe eienaars het die familiebegraafplaas vir ons gewys. Die manne moes die kopstuk opsukkel sodat ons die inskrywings kon lees. Ons was ook in oom Tom se huis wat nou al klomp jare leeg staan, ʼn plek waar my skoonpa gaan kuier het toe hy klein was. Ons kon ook die kerk op Dordrecht sien waar my skoonpa gedoop is, ʼn mooi deurwinterde gebou wat eens die hartklop van die omgewing was.

Toe die manne gaan jag het en ek alleen agterbly in die gastehuis het die gawe tannie kos na my kamer toe gebring sodat ek nie hoef uit te kom in die koue nie en net kon lê en lees. Elke aand ʼn bord warm mammakos, twee slaaie, ʼn sappie, twee vrugte en poeding op die skinkbord.

Dit was ʼn goeie wegbreek. Een waar ons weer kon sien hoe normaal ʼn stadige lewe is en hoe lewensbelangrik dit eintlik is. In ʼn plek waar mense die natuur respekteer is daar nie plek vir fieterjasies en kompetisies nie. Jy spog nie met jou kar of jou huis nie, want dis net ʼn woonplek of ʼn ryding. Prestasies is eintlik geensins ter sprake nie, want dit bly maar ʼn onnodigheid wat mense in die digbewoonde plekke waarde aan toevoeg.

Elke keer as ons vier in die kar geklim het, bring ons iets saam huis toe. Wêreldbeskouings verbreed, liefde vir die natuur verdriedubbel, oë word sagter en ʼn stille wete dat daar ʼn mooi heenkome vir ons wag sodra ons nie meer onsself stadsmuise hoef te noem nie.

Die vakansies met die kinders raak al hoe minder en daarom is elke liewe keer wat ons saam ʼn plek ontdek net meer spesiaal. Om ʼn ander omgewing te beleef sluit nuwe gedagtes oop. Dit hoef nie Parys te wees nie, dit kan sommer Petrusville wees. Solank ons net saam is, kan lees oor daardie dorpie se storie, ons kan indink hoe mense so baie deursettingsvermoë aan die dag gelê het om iets op te bou en om ʼn foto te neem, koffie af te sluk en verder te ry.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply