Heilige stilte

Vanoggend het ek ʼn slag tyd gemaak om stil te sit. Die gejaag irriteer my grensloos, dit voel of niks met intensie en egtheid gedoen word nie. Maar helaas, ek kon stil sit en dit was goed en nodig. Ek het by ons 10-jarige vriend, Eben, gaan sit. Eben is al van Februarie in die hospitaal nadat hy infeksie op sy brein opgedoen het en na verskeie beroertes het ʼn geselserige, vrolike kind in ʼn stil seun verander. Deesdae is hy baie wys en ek wens hy kon alles met my deel wat hy weet, maar hy dwing my om meer introspeksie te doen en verder te grawe. Die outjie daag mens nogal uit, sy stilte praat baie harder en duideliker as woorde en dit was nodig om te hoor.

Nadat ek die gewone daaglikse dinge vir hom vertel het wat gebeur het: Boompie het verjaar, Jan speel nou rugby, Jan het na ʼn ander skool geskuif, Ben het vanoggend koor gesing. Stilte. Dan begin babbel ek voort en vertel hoe baie ons hom verlang en ons pak nog ʼn teddiebeer op hom. Ons vryf net bene en arms baie saggies, want daar is pypies oral en ons is bang ons maak sy lyf seer as ons dalk ʼn drukkie met mening gee. Stilte.

Toe raak ek ook maar stil, want praat is soms onnodig. En my gedagtes gaan terug na Februarie en trek ʼn kort tydlyn tot waar ons nou in Mei staan. Intussen het die weer gedraai, die bome se blare het begin afval en die wêreld begin lyk al soos winter buite. Sportspanne is daar buite die hospitaal se mure gekies, ouers swaai arms langs die veld en raak sommer vir mekaar ook vies. Afrikaans het op 8 Mei 100 jaar oud geword, ons was vrolik en dankbaar vir ons mooi taal wat al so ʼn ver ent gekom en ontwikkel het tot ʼn diverse en lekkerpraattaal. Daar buite in die strate raak mense daagliks kwaad in die verkeer, hulle het kwaad wakker geword en hulle ry ook kwaad-kwaad werk toe. Mense sê lelike goed vir mekaar, seker maar kwaadwees se skuld. Hulle spog, hulle meet, hulle weet – maar darem nie hier by Eben nie. Groot advertensieborde flits aanhoudend, mense lok jou na hul besighede toe, want hulle soek getalle en geld – alles baie strategies. Dit woel behoorlik. En as ek so langs Eben sit in die stil hoekie besef ek, ek gaan seker een of ander tyd moet opstaan en ook weer deel wees van die “hulle”, maar ek is nie lus nie. Eweskielik lyk meeste dinge waarmee ons besig is onnodig en onbenullig. Ons stof bolangs af, ons “check” vinnig in op mekaar, skedules, begrotings en beplanning regeer ons lewens. Ons is so haastig ons maak mekaar se sinne klaar en luister nie tot die einde nie, want daar is ʼn tydgleuf waarin alles moet gebeur. Ons luister om te reageer en nie te hoor nie.

Ek sien Eben knip bietjie sy oë en ek wens ek kon weet waaraan hy dink. Ek wonder of hy saam met my sal stem. Ek gaan sit by sy ander arm, want ek vermoed ek het die regterarm al te veel gevryf. Die oggendson loer by die venster in, hy kan lekker in somersklere in sy stoel sit. Hy dra sy bandana met sy naam op wat sy pappa verkoop om sy fonds aan te vul.

Ons moet aanstaltes maak, ons herrangskik weer die teddiebere op hom vir ʼn bietjie nabyheid. Ek trek die blou handskoene uit en gooi dit in die asblik. Ons stap in stilte by die hospitaal se gang uit en eweskielik is daar geen meer bekommernisse op my skouers nie en die wêreld se geraas het dowwer geword.

Ek moet weer by jou kom kuier Eben, dit was ʼn goeie gesprek.  

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply