Is dit nou dit?

Is dit nou dit?

Die jaar is feitlik op sy rug en ek het my jaarlikse gemoedsbekakking gekry, sonder dat ek daarvoor gevra het. Die swart honde weet wanneer om te kom klop aan my deur, wanneer ek dinge wil afhandel vir die jaar, wanneer ek wil terugkyk en besin oor wat ek die jaar vermag het. Hulle antwoord is altyd dieselfde: Is dit nou dit?

Oe en dan val ek in ʼn eindelose diep gat, want daar is ʼn verskil tussen besef en aanvaar. Laasgenoemde is natuurlik die moeiliker een van die twee.

Ek skop en baklei teen stagnering, ʼn dodelike roetine, onregverdigheid, valsheid en pretensie meer as ooit aan die einde van ʼn jaar. My nerwe is dun, my ore en oë is oorsensitief vir alles wat gehoor en gesien kan word. Relatiewe eenvoudige take oorweldig my en ek voel absoluut useless. Dit laat dink my aan die kere wat die juffrouens in die laerskool altyd vir ons gesê het dat die Here vir almal talente gegee het en dan sit ek daar soos ʼn brood op die mat en dink by myself dat ek heel agter in die ry gestaan het toe sang, vinnig hardloop en balvaardighede uitgedeel is. Dit was maar die tipe talente wat ʼn kind dink hy/sy veronderstel is om te hê. Intussen het ek darem ʼn grootmens geword en het besluit ek gaan my eie reëls maak wat dit aanbetref, daarom leer ek my kinders dat ʼn sagte oor, ʼn hart wat jammer voel of ʼn hand wat uitreik ook talente is, sodat hulle nie soos ek moet voel toe ek hulle ouderdomme was nie.

Talente kry ʼn nuwe maatstaf as mens die grootmenswêreld betree, steeds voel ek soms soos daardie kind op die mat wat nie ʼn vinnige antwoord kan uitdink nie.

Maar ek weet ook dat wanneer ʼn mens in ʼn donker plek is, jy positiewe gedagtes eerder van die hand wys omdat dit die donker gaan verdryf nog voordat die donker antwoorde gebring het. Donker moet mos lank vat. Dit moet mos vernietigend wees en ek is nog nie daar nie, dit moet eers goed uitwoed, organies en stadig.

Gister ry ek en die kinders in die kar en Jan is ontsteld en daar is ʼn irritasie in die lug tussen hom en sy broer. Ek het ook nie die kapasiteit gehad om teen laatmiddag nog regter te speel nie, toe sê ek sommer hulle moet net fokus op die mooi liedjie wat oor die radio speel en ek draai die volume bietjie op.

Toe die liedjie in die helfte is, sê Jan vir my: “Thanks, dit het gehelp, ek voel nou weer beter.”

Ek het gedink dis te maklik, dis te eenvoudig, dis omdat hy ʼn kind is en nog nie gekompliseerde emosies verstaan nie. Miskien sal hy ook eendag langer vat voor hy weer beter voel.

Ek is vies vir die swart honde wat eenvoudige dinge kom kompliseer sonder rede en verstand. Ek verwag al dat ʼn bedrukte tyd lank gaan neem om oor te waai, daarom maak ek my maar gemaklik en verduur die rit.

Ek vra hopeloos te veel vir myself af, “Is dit nou dit?”

Die planne wat ek gehad het toe ek twintig was is ver verwyderd van waar ek nou is. Dit wat ek voor gehoop het, het nog nie gebeur nie. Dit wat ek wou hê is nog nie hier nie. Is dit nou dit? Is ek veronderstel om net vrede te maak?

Vrae beantwoord nie ander vrae en is net die graaf waarmee die gat nog dieper gegrawe word. Ek hoef nie als uit te figure nie, ek hoef nie als te hê en te doen wat my mensgemaakte lysie sê nie.

Ek moet eerder die raad volg wat ek vir die kinders uitdeel en fokus op die mooi. Ek draai dadelik die radio se knoppie om die musiek harder te kan hoor, ek luister na elke woord en maak die venster oop.

Eendag sal ek weet, nie nou nie. Nou moet ek net na die musiek luister.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply