ʼn Appelkar wat omval en ander wonderlike goed

Soos ek vir die twee seuntjielywe kyk wat nog in ʼn diep slaap is, met die reën wat saggies buite val, besef ek ek het al ʼn paar keer my appelkar die afgelope ruk wanbestuur en sommer net laat omval by tye.

Appels hoort mos in karre. Appels wat mens behoort te hê soos: emosionele teenwoordigheid, ordelikheid, stiptelikheid, selfdissipline en dan natuurlik die kroonappel wat glad nie mag kantel nie: die vermoë om alles gelyk te kan doen sodat wanneer ek saans my kop neerlê ek sonder skuldgevoelens my oë kan toemaak.

Soos November nader kruip, begin raak ek klaar angstig, want ek en hierdie maand sit nie juis om dieselfde vuur nie. November verwag van my om te jaag en ek geniet nie ʼn stukkie jaag nie. As ek jaag verloor ek my appels en as ek my appels verloor weet ek nie meer wie ek is nie. Om hierdie stormloop te vermei het ek reeds begin spoed optel in Oktober om gewoond te raak aan die vinniger pas en die meer eise, maar helaas, nes elke ander jaar het November my weer ondergekry. Ek lê weer langs die pad, besig om al my appels sorgvuldig op te tel.

Geld het uitgestroom soos ʼn dam wat se sluis oopgemaak is. Kersgeskenke, Sophia wat ʼn tjoklit broodjie geëet het en twee dae in die hospitaal spandeer het, ʼn kar wat nuwe bande kort, kinders wat nuwe klere en skryfbehoeftes kort en dan ʼn hele paar ander uitgawes wat mens nie kan sien waarop jy die geld spandeer het nie. Dinge wat gedoen moet word in ‘n rekordtyd. Plekke waar ek moet uitkom en intussin kort die kaste brood en melk, so ‘n trippie Checkers toe moet ook nog kort-kort ingewerk word.

In kort: die lewe het vinniger begin draai en ek is al van kleins af bang vir rides, dit maak my naar.

Ek het geweet iewers moes ek my groot melt down hê voor ek by ʼn draaipunt gaan uitkom en dit het my ook sommer angstig gemaak.

Donderdagaand het alles oorgekook en uiteindelik het dinge weer begin sin maak. Na ʼn dag van te veel eise, te veel moets, te veel draaie het ek boonop nog die pizza ook verbrand en kon ek net nie die kommentaar aan tafel oor die verbrande pizza ook nog hanteer nie. “Dit lyk weird.” “Ek gaan dit nie eet nie.” “Hoekom ken jy nog nie die oond nie?” Die drie manne het dit behoorlik gehoor en ʼn ongemaklike stilte het daarna gevolg. Ek het selfs gehoor hoe Jan saggies vir Ben sê hy is nou bang vir my. Onmiddellik lyk alles waarmee ek op daardie stadium op die rekenaar mee besig was buitengewoon belaglik en ek gaan na die kinders toe waar hulle in die bad sit. Ek vra toe mooi om verskoning en Ben sê ek moet net onthou om volgende keer vir Jesus te vra om my super speed te gee sodat ek by alles kan uitkom.

Met die goeie stukkie wysheid lees ons Bybel en daar lees ons vir die hoeveelste keer die storie van die vyf brode en die twee vissies. Ek moes al hoeveel keer oor daardie deel gelees het, maar merk dit vir die eerste keer op dat Jesus daardie dag eintlik baie hartseer was oor sy vriend, Johannes die Doper, se dood. Hy wou net bietjie alleen op ʼn berg gaan sit en huil en wegbreek van die skares wat hom agtervolg het. Daardie selfde dag gebeur die wonderwerk van die massas wat kos kry en die oorskiet wat in mandjies gesit moes word omdat daar te veel oorskietk was. Ek het nooit besef hy was eintlik net moeg en hartseer nie. Ek glo ook nie Hy het ʼn melt down gehad toe Hy vir die hoeveelste keer iets moes doen sodat mense Sy krag kon beleef nie. Hy het dit net gedoen en was nice met almal.

Iewers in die week het Ben ʼn plan gekry om ʼn winkeltjie te begin (in die gejaagde tyd van lysies en spertye). Ek het hom glad nie bygestaan in sy projek nie, want ek het nie daarvoor ook nog krag gehad nie. Toe ek weer my oë uitvee, het hy in die straat met ʼn tafeltjie gestaan en besigheid gedoen. My baba. Met ʼn aansienlike bedraggie in sy blikkie kon ek weer nog lekkers gaan koop wat hy weer kon verpak, wat die volgende dag toe weer suksesvol uitverkoop is. Ek het nie veel van sy winkeltjie gedink nie, want hy het geknipte stukkies spons en klein geknipte stukkies skuurpapier in sakkies verkoop. Die mense wat verby hom geloop het, het dit heeltemal anders ingesien as sy eie ma. Hulle het hom ondersteun en geselsies aangeknoop. Selfs ʼn man wat besig was met sy Uber Eats-aflewerings, het sy motorfiets tot ʼn stilstand gebring en by hom iets gekoop. Die gawe man se woorde: “I know how it feels, I also started there.”

Ek was vir die laaste ruk onbewus van alles om my en het net die “nodige” goed gedoen en eintlik begin fokus op die nitty gritty goed in plaas van die groot goed. Dis hoekom ek jaag so verpes. Dis ook hoekom ek besluit het, ek stoot nie meer ʼn appelkar nie. Appelkarre is gelykstaande aan beheer en as ek voel ek verloor beheer van mensgemaakte goed, voel ek soos ʼn mislukking. Maar: as ek nie ‘n appelkar het nie, kan hy nie omval en my ontspoor nie. Dus, as ek lus is vir ʼn appel, gryp ek hom sommer in die loop.

Facebook
WhatsApp

This Post Has 2 Comments

  1. Tannie Frannie

    Hoe kordaat staan daardie klein sakeman by sy ware!

  2. Ineke

    Ai toggie die liewe appelkar tog. Kan my goed indink in hoe jy voel. Dis egter moeilik om die kar weg te stoot as mens jou lewe lank aan hom gestoot het.

Leave a Reply