Hallo nuwe jaar

Aan die begin van 2022 het ek 2021 se stof, bekommernisse en herhaalde foute afgeskud. Dit was ʼn nuwe skoon bladsy wat voor my gelê het: een sonder kantlyne of blou lyntjies, heeltemal skoon, intimiderend skoon.

Die eerste merk wat ek gaan maak, sal die toon aangee vir die jaar. Die mate van energie gaan die standaardmerk wees vir die res van die jaar vir as ek my vlakke van irritasie of moegheid wil meet.

Die planne wat ek maak (wat reeds in die wegspringblok moet wees) moet momentum kry teen Meimaand en suksesvol afgemerk kan word in November. Dit gee my genoeg tyd om oor Desember weer nuwe planne te formuleer, want as ek nie planne het nie, het ek nie rigting nie en as ek nie rigting het nie, verdwaal ek.

En hier staan ek met groot oë teen Desember 2022 vir die see en kyk, met ʼn effense skuldige gewete. Ek het nie iets fantasties bereik nie, maar nou soek ek vir troos by die groot watermassa. Die see is vol antwoorde, ek moet net lank en stil genoeg wees om dit te kan hoor. Die dae het verbygegaan terwyl ek nog steeds wag op iets soos “toemaar, als sal okei wees”/ “probeer maar weer”/ “ek sien jou”. Maar net mooi niks. Met al die gekyk vir die groot water met al sy lewe in sy lyf, het ek begin opmerk hoe die ritmes verander. Laagwater is ʼn rustige slaaptydliedjie wat die mense strand toe nooi en kans gee om in die water te gaan en al hul gadgets te gaan haal om behoorlik te kan speel. Hoogwater se dreunende rock-klanke jaag mense weg en bring ʼn meer aggressiewe ritme mee. Die winde woed en die nuwe kwaai klanke beur voort.

Die orkes gaan lê later weer en al die musikante sit hul instrumente neer uit respek vir die maan wat sy spieëlbuiging kom maak vir die aand. En dan na ʼn lang nag se geleidelike opbou van ritme en musikante wie se vingers jeuk om te begin speel, is die orkes weer môreoggend in volle glorie terug met wit perdjies oral op die see so ver as wat jy kan sien.

Die see beur voort, stop nie, maar bedaar soms, raak kwaad en vergewe weer. Daar is nie jare in die see nie. Geen nuwe planne nie. Net instink en vertroue.

Sonder om ʼn woord te hoor het ek besef om ʼn nuwe jaar te begin sonder planne of agenda is nie so sleg nie. My lewe word nie in jare gemeet nie, want dit is net een lang streep: van geboorte tot waar ek groet en huis toe gaan.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply