Ilne Fourie
Djong, kyk ek hou van ‘n kunstefees. Nei wat praat ek, hou? Ek laaik dit! Hulle sê mos ‘n kunstefees het ‘n vibe, djy wiet, ‘n feeling. Dis da wa die actors bymaka kô en kinserte hou virrie public. Hulle roep dit arty. Nou ek is ôk arty, djulle salit nou nooit sê nie, ma die acting loep stêk in onse genes. Ek het myne gekry by my se mammie. Sy het altyd ha hare pers gedye met goet wat ryk soes katpie en knoffel en dan het sy grote hoere op ha kop gebalance. A true work of art! Sy het lang Courtleys geroek met ‘n plastic pypie, want sy het gesê ‘n lady se hande kan nie ruik soos ‘n ashtray nie. Dja is soe, my mammie was ‘n singer, sy het gesê ha stage name was Tracy Violet, dis die dat sy ha hare soe pers gedye het. Ma sy hettie vir lank gasing nie, ha bors het beginne oppak. Dis hoekom sy so vrieslik gadrink het, sy het gasê die dokters se medicine help boggerol vir ‘n toe bors – Brandy trek hô oep soos warm Vics! Dis toe dat sy beginne acting klasse gee op onse dorp, die anties vannie dorp het ha nie veel gelike nie, vir ons oekie. Gasê my mammie is die duiwel se suster. Aaag, ma sytie geworry oor wat andir mense van ha dink nie, want sy het gewiet sy is goed. Ha tjinders het djaar na djaar weggestap by die Eisteddford met goue pryse en A-plusse.
Die een djaar het sy my ook ingeskrywe. Ek was in Standerd een. Ek het ‘n grootmens gedig gedoen, Ma deur Antjie Krog. Daai was ‘n moeirlike gedig en ek het lank gesukkel om al die woore te onthou, maar mammie het my dit oor en oor lat opsê tot ek dit kon sê sonder lat my tong een keer knoep. Ek was djeel laaste ôppie lys. Mammie het my eenkant toe geroep en gasê:
” Joe, vanaand doen djy hierdie gadig op djou mooiste. En djy sê nie djy en djou nie – Antjie wassie ‘n coloured nie. En djy kykie virrie judges nie. ‘n Mens kyk nooit virre’n judge nie, anders raak djou nerves opgecharge en djy pie in jou broek. Djy kyk net vir mammie hoor! Djy kyk net vir mammie.” Sy het vi my ‘n rooi Fizzpop loep koep by die snoepie en my pompom styf gatrêk.
Toe dit my beurt was het ek oppie verhoog gestap, my bene was lam en my keel droog. Amper soes wanneer ons aan-aan gespiel het en jy moet hol virrie die blok. Ek het my naam hard en duirelik gasê:
“Ek is Joe Venter en ek doen Ma geskryf deur Antjie Krog.”
Die judges het hulle lampies aangeskakel en hulle penne laat kliek. Ek het opgekyk en onthou wat mammie gasê het. Ek sallie virrie judges kykie, net vir mammie.

