Om lief te hê

Die kwartaal is al oor die helfte, die lente is hier en die tyd hou aan rol en bring nuwe oggende en aande. Nuwe aandetes, nuwe skottelgoed, nuwe huiswerk, nuwe maniere van dinge doen en iewers het ek met die beste intensie voor die rekenaar gesit (‘n maand gelede) om iets te skryf om my brein reg te pak. Ek kom nou weer op die stukkie af wat ek aan die begin van die kwartaal geskryf het. En weer eens kan ek nie genoeg dankbaar wees vir kinderharte nie.

Die kwartaal het begin, dis immers al week vier. Ek het dit nog heeltyd probeer ontken en vermy. ʼn Groot afleiding van realiteit was die broodnodige makansie in Prins Albert. Die liewe Karoo, met sy bekoring, mense, kuns en kos. Plekke met die fynste detail in ʼn robuuste landskap, staan soos tingerige kunswerkies braaf teen wind en weer. Mense is trots, die strate is skoon, die lug is vars en elke stoepie en tuinhekkie nooi jou binne. Agter elke mooi voordeur is daar stories opgesluit en ek het gebrand van nuuskierigheid soos ons die strate deurgewerk het. Ek wou stop en maatjies maak met die tannies en vra of ek na hulle mooi koppies kan kyk in hul vertoonkaste en bietjie op hulle stoep sit en die mense in die straat dophou. Ons tyd was te min, anders sou ek dit gedoen het.

Maar eintlik is ek al vier weke later terug, maar ek bly vang myself waar ek nog dagdroom oor ʼn plek waar mense nie gepla is oor horlosies nie, waar egtheid kristalhelder is en waar jy heeltyd veilig voel met groot berge wat om jou vou, amper soos beskermengele.

Ek wou regtig nie weer net aangaan asof ek nie in hierdie stukkie hemel was nie, want dan sou dit beteken ek ontken die mooi juweel se bestaan. Ek was nie lus om weer die Uber, persoonlike assistent en huiswerktannie van die huis te wees nie. Die strate is lelik, die geboue is vervelig, die lug is vuil en hier is nie berge wat beloftes inhou nie.

Ek was (is eintlik steeds) baie vies vir die grilla dorpie waarin ons nou moet bly vir allerhande vervelige en realistiese redes.

My uur en ʼn half se wag in die kar het na ʼn einde se kant toe gestaan en my dagdromery moet gebêre word en oorskakel na wat ek kan opdis op die stoof binne 5 minute vir ons. Jan kom aangestap van die sokkerveld af. Hy drentel en draal en loop en kyk eers skaamteloos na ʼn paar fancy karre wat sy aandag trek. Ek moet wag, want dis wat Ubers doen. In my geval kan ek hom nie eens ʼn ekstra fooi vra vir die wag nie, ek moet maar net sit en wag.

Toe sir Jan uiteindelik besluit dis laat en donker genoeg om kar toe te beweeg, klim hy rustig in en trek eers sy toks uit en groet ʼn ander gesiggie wat verbykom. Ek mag nog nie die kar aanskakel nie, want hy moet eers ʼn ernstige storie met my deel. Ek is regtig nie lus vir die ernstige storie nie, ek wil sit en huil in my hande oor ʼn mooi plek waar ek nie meer kan wees nie.

Met baie wilskrag gee ek my beste en luister na ʼn storie met hordes vertakkings en bykomende inligting. Tussendeur word vrae gevra en my konsentrasiespan word beproef. My aandag dwaal af en ek begin raak bang en angstig omdat die kwartaal my al klaar moeg en bedruk laat voel nog voordat ons oor die halfstreep is.

Die storie met die hordes vertakkings word onmiddellik onderbreek omdat ons by die verkeerslig gekom het waar Jan vir ʼn spesifieke oom ʼn geldjie wil gee. Ek moes dit gereed hê in my beursie, nadat ek die vorige week nie geld by my gehad het nie en hy baie ongelukkig daaroor was. Die oom is nie daar nie. Ek is eintlik bietjie bly, want ek moet nog gaan kos maak. Jan begin naarstigtelik na ʼn ander oom soek, want hierdie geldjie moet onmiddellik uitgedeel word. By die volgende verkeerslig glip ek links, so daar gaan nie tyd wees om te stop nie, daaroor is ek eintlik ook ʼn bietjie bly. Amper by die huis en Jan is erg omgekrap en tranerig. Hy hét ʼn oom gesien vir wie hy die geldjie kon gee en ek wou nie stop nie. Ek moet omdraai. Al kermend en sugtend draai ek om, ry in ʼn veldjie in, sit die kar se ligte op bright sodat ek hom duidelik genoeg kan sien hardloop na die oom toe om die geldjie te oorhandig. My senuwees begin toe bietjie knaag en ek sit hom maar agterna.

Met karre wat vinnig verby ons ry langs die pad en waar ons in die veldpaadjie draf, is dit stil en rokerig. Die ooms praat in gedempte stemme, een vra sy naam en sit sy hand op die kind se skouer. Hy draai om en kom hardloop terug. Soos hy teruggehardloop kom, lyk sy gesig heeltemal anders as vroeër. Blonde kuif wip vrolik en ʼn glimlag wat nie wil verdwyn nie. Hy het iets vir iemand anders gedoen en dit was vir hom lekker. Hy is so dankbaar dat ek teruggedraai het en hom die kans gegee het om te doen wat op sy hart gedruk het. Hy voel geliefd. Hy voel veilig.

Ons het albei vol geselsies teruggery, en dankbaar vir verskillende goed. En ek moes pynlik erken dat ek nie kan lief wees vir iemand wanneer dit my skedule pas nie, maar eerder wanneer dit hulle pas. Net dan is liefde, liefde.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply