Nog net ʼn kwart oor van die jaar en dan is nog ʼn jaar verby. Nog ʼn jaar word verpak in rame teen die muur en skulpies in ʼn bottel op die rak. Dit maak my opgewonde en bang. Het ek genoeg van alles gedoen? Genoeg gegee? Genoeg gerus? Genoeg by my kinders gesit? Genoeg goeie kos gemaak en regtig moeite gedoen? Genoeg kan vooraan meeste goed gesit word, maar ek weet sonder om te skroom dat ek genoeg kere al soos ʼn vrot vel in die kar geklim het om die kinders af te laai met ʼn draakasem en ʼn afskuwelike pakkie wat selfs die asblik voor sal gril. Ek het al genoeg gekla, die glas half gesien, die kat uit die boom bekyk, bang gewees, my dood bekommer oor dinge waaraan ek op die aarde niks aan kan doen nie en meer as genoeg uitgestel. Genugtig die Kersboom moet al amper weer uitgehaal word en ek wou nog so baie vermag. As die Kersboom eers staan, word die jaar amptelik op halt geroep en alle uitstaande take staan oor na die volgende jaar. Alle voornemens kry nuwe datums en so kry die nuwe jaar lysies nog voor die arme ding kon gebore word.

Genoeg geoefen? Nee geen. Vars uitgedrukte sappies, oggenddraffies, moeite met vriendinne, stiltetyd? Nog minder.
As ek na ons hamster se hartseer bestaan kyk, kan ek nogal vereenselwig met die outjie. Hy geniet sy speelgoed, maar hy bons van wieletjie na huisie, trappies na grondvloer net om weer van voor af te begin. Ek kry die idee dat Fluffy nie meer omgee of hy soms op sy kop val nie, dit traak hom nie of hy op sy pens land nie, hy is vasgevang om dinge te herhaal sonder end tot die hemelpoorte eendag vir hom oopgaan.
Om betekenis en waarde tot ʼn dag toe te voeg, is ʼn daaglikse aksie wat moet gebeur en meeste van die kere gaan ek maar net met die stroom en hoop dat betekenis en waarde toevallig bygevoeg sal word vir ekstra geluk.
Ek is nie Fluffy die hamster nie, my hok staan wawyd oop en daar is heelwat dinge wat ek tussenin kan sit om die roetine te breek en elke dag iets nuuts te beleef.
Om skuldig te voel omdat ek skuldig voel, oorweldig voel omdat ek doelloos voel en om onrustig te voel omdat ek vergeet het hoe om te ontspan, is dinge wat ek met graagte aan wil werk.
Om sonder verskoning my spasie op te neem op die planeet en te benut, ontspanning te prioritiseer, om te leef met die wete dat ek verdien wat my toekom en om ʼn stille wete in hart my te hê dat daar absoluut niks is wat bekommernisse aan môre beter kan maak nie – dis ʼn mondvol en ek ken nie eintlik so ʼn persoon nie, maar ek wil graag so iemand wees, al probeer ek ten minste net vir die laaste kwart van die jaar.

