Hulle sê mos in ʼn wêreld waar jy enigiets kan wees, wees net jouself. Behalwe as jy té anders is, wees dan bietjie meer soos die res ter wille van orde.
Onder ons huis se dak is vier uiteenlopende persoonlikhede, net soos in enige ander huis. Sommige persoonlikhede is net meer aanvaarbaar ter wille van orde.
As jy nie ordentlik genoeg groet nie, as jy nie ʼn antwoord gee na aanleiding van die vraag nie, as jy van links af kom as dit van jou verwag word om van regs af te kom, veroorsaak jy probleme. Jy vertraag die proses. Reddingsboeie moet uitgegooi word om jou weer terug in jou baan te kry.
Van ʼn baba se geboortedag begin die orde: reëls, mylpale, die lys gaan aan. Stelselmatig word die ordes en wette met elke verjaarsdag ʼn bietjie meer, totdat mens een dag terugstaan en alles bekyk en wonder hoe jy hier beland het.
Vandag toe ʼn dierbare kind reguit op my afpyl en vir my vra of hy vir my ʼn drukkie kan gee, het ek nie gehuiwer nie en die kind, wat ek van geen kant af ken nie, omtrent in ʼn greep gehad. Dit was ʼn omtrent ʼn oomblik daar in die arbeidsterapeut se wagkamer. Hierdie kind het heel moontlik al grense oorskry deur mense net te druk en hulle te oorrompel, maar vandag het hy onthou om eers toestemming te vra. Sy ma het gestaan en die gedrukkery en toekyk met maskara wat loop en ʼn dankbare hart vir haar seun se mooi gebaar.
Daar is so baie kinders op skool wat oorbewus is van hul omgewing: die skerp lig, die harde bank, die geraas om hulle, afkondigings, instruksies, reëls, temperatuur, klere wat krap en iewers tussendeur ʼn onderwyser se stem wat deurbreek. ʼn Handjievol kry dit reg om alles uit te doof en op een onderwerp te fokus, maar baie se gedagtes raak geknoop met “hoe werk die skoolklok?”, “hoe oud is hierdie stoele?”, “hoeveel papiere is in al die asblikke in die hele skool?”, “hoeveel ink gebruik my pen in ʼn jaar?”, “as miere tot 50 keer hul gewig kan optel, hoekom is mense nie ook so sterk nie?”.
Die wêreld se geraas is ongelooflik hard en dit skree in die skole in, deur die boeke, deur die kompetisiegedrewe aktiwiteite, deur die massas werk wat deur die worsmasjien moet beweeg en dit het oorgespoel na verwagtinge en sogenaamde standaarde. Daar is fisies nie tyd om stil te staan en ʼn vreemde argument te bevraagteken nie, die wiel moet net aanhou draai sodat medaljes uitgedeel kan word, rekords geprys kan word en denke maar net verder ingeboks kan word.
Nie te veel is mal oor die waarheid nie, want dit tref ʼn bietjie te naby en maak mens ongemaklik. Want te veel “voel” impliseer dat ʼn wêreld wat gedesensitiseer is moet akkommodeer en stadiger beweeg en dalk mekaar in die oë kyk.
Gelukkig vir kinders is daar ouers wat nog doelbewus die druk kan minder maak en hulle net vrylaat om bietjie chaoties te wees, iewers word almal grootmense en dan is druk onvermydelik.
Ek hoop die orde van die natuur sal weer sy loop kry eendag en almal in vrede laat om in die hemel ʼn chaotiese lewe te kan leef, een sonder standaarde.
Die arme wêreld wil nie hoor of sien dat mense met meer insig en begrip moet benader word nie: “in my tyd was daar nie goed soos ADHD-watse naam nie, ons is geneuk” of “weet jy ek glo mos net in natuurlike oplossings” of “ek het maar net gesorg dat my kind gebalanseerd eet en genoeg oefening kry, dan is medikasie nie nodig nie.”
Geldig ja. Maar as ʼn kind sensories sensitief is, is ʼn heilsame bord kos sy grootste nagmerrie, “neuk” gaan hom verwilder en ʼn “natuurlike oplossing” kan dalk in sekere gevalle ʼn verskil maak.
Om ʼn dromer deur ʼn dag en al sy vereistes te kry is nie maklik nie, maar om by een te sit en te gesels bring beslis die hemel af aarde toe vir ʼn rukkie, tot hy weer ʼn diertjie sien wat vinnig hardloop of sy hond optel en eerder met hom verder gesels.
Onder ons huis se dak is vier verskillende persoonlikhede. Persoonlikhede wat ek nie sommer self bymekaar sou sit nie, terwille van vrede en orde. ʼn hoër Hand (met ʼn sin vir humor) het beslis hierdie legkaart uiteengesit. Die kringetjies wat in die water uitkring met elke uit-die-bloute-vraag, is seine wat uitgestuur word om ʼn ordelike wêreld weer so bietjie te skud en nader aan die natuur te bring.

