ʼn Jaar is verby en daar word geskenke toegedraai, skryfbehoeftes vir die nuwe jaar gemerk en lysies gemaak vir dinge wat oorstaan na dinge wat kan wag vir Januarie.
Dit is ʼn tyd van refleksie tussendeur die besigwees en harwar. Niks het stilgestaan nie, alles het vorentoe beweeg en gegroei, dalk nie soos ek my voorgeneem het nie, maar nuwe rigtings is tog ingeslaan en dit tel mos as groei.
Mark Twain se treffende aanhalings het al vele kere onder my oë beland, maar toe ek vandag weer iets van hom raaklees, tref dit my tussen die oë: “Whenever you find yourself on the side of the majority, it is time to pause and reflect.”
Nadat ek dit gelees het, was ek ʼn slag dankbaar vir sosiale media met sy valse flaters en al. Ek moes gaan sit en dink oor dié ene.
In ons huis vier ons andersheid, ons moedig dit aan en probeer ʼn oopkop-benadering kweek. Of ons dit suksesvol regkry, sal gʼn mens weet nie, maar ons probeer, want dis belangrik.
Ek het myself al ʼn paar keer hierdie jaar gevang waar ek met die stroom wou gaan, ter wille van gemak en sommer net ter wille van die stroom. Die stroom neem besluite vooraf en as jy gemaklik is daarmee, val jy in en word saamgesleur. Jy hoef nie te dink of appèl oor iets aan te teken nie, die stroom sal jou neem na wie weet waar.
Miskien is dit hoekom daar ʼn stroom is. Die feit dat oorhoofse besluite, vooroordele en opinies reeds namens jou geneem is en jy kan dan net inval daarby en dryf.
Die stroom besluit wie beloon word vir take wat die stroom uitgedink word met kriteria wat ook deur die stroom uitgedink is met ʼn beloning wat ja, reg geraai, ook deur die stroom beklink is.
Goedkeuring en afkeuring is aan die orde van die dag. So eintlik is dit nogal harde werk om deel van die stroom te wees, want jy moet wawiele doen as dit wawieltyd is al hou jy eintlik van tolletjiebrei, jy moet bokdrolle spoeg en jou naar sluk, jy moet die stroom se wette aanhoor en jou ore toedruk en gaaf knik.
As jy afkortings voor jou naam kan sit, is dit ʼn bonus. Dit maak jou belangriker en gee gravitas aan jou karakter. As jy goue sterre kry vir stroomdinge dan is jy: slim, hardwerkend, sportief, kunstig.
Maar as jy dinge bevraagteken, anders dink, ʼn blom teken as jy ʼn blaar moet teken, pienk dra as jy blou moet dra, hakke dra in plaas van vellies, kry jy kwaai teenkanting by die stroom. Jy word woes uitgestoot tot by die naaste wal. As jy genoeg krag het, kan jy probeer stroomop swem, maar ek is ʼn swak swemmer, ek bly maar op my wal.
Daar is heerlike geselskap op die wal, want daar is nie so ʼn gejaag om te kyk wie kom eerste by wie weet waar aan nie. Ek was die jaar ʼn paar keer in die stroom en ek het die wal verlang, soms val mens in as jy te naby aan die rand ploeter.
Die stroom noem hulle “randeiers”, maar hulle praat van hulself as “mense”. Ek is spyt ek het sommer net my wal prysgegee en ingespring deur die jaar, maar dis lekker om weer tuis te wees.
My gebed is dat die malende stroom al smaller sal word, dat brûe gebou sal word en almal vry sal kan loop.

