Dit vat baie lank om ‘n kombers te hekel

Die winter wat begin voelers uitsteek het vroeër in die jaar en oudergewoonte net soos die gedagtes van sop en meer koffie by my kom draai, net so begin my kop weer aan wol dink. As die lug koud is en die son suinig is met sy hitte, moet hande besig gehou word. Dit is ʼn reël van die heelal en ek vra nie vrae nie, ek bly by die reël en gaan soek hierdie jaar se projek tussen die wolwinkel se rakke.

ʼn Hoek-tot-hoek patroon met ʼn bruinerige wol, lekker dik en sag. Hierdie jaar maak ek ʼn grootmens kombers: geen lawwe patrone in al die beskikbare kleure wat ek in die trolle kan gooi nie. Een kleur enduit.

Vir die begin van die kombers wat nog net ʼn plan is en wat nog in verpakte bolletjies lê, moet ek eers weer kers opsteek by my ma. Sy begin die blokkie vir my en verduidelik hoe ek moet vermeerder: “Ses kettinkies, duik in met drie langbene en as jy by die einde kom, blaai hom om soos ʼn Huisgenoot.” Ons kuier in die Kalahari op my niggie se plaas. Die kombers word nou ʼn piepklein muiskombersie, elke steek hou ʼn grap, ʼn lag-tot-jou-kop-pyn, nog ʼn storie, nog ʼn koffie, nog ʼn vreetdingetjie in.

Die pad terug is lank, muiskombersie moet eers bietjie op die agtersitplek sit, want nou is dit eers skooldinge wat eerste prioriteit is. Vinnig verander die entoesiasme na irritasie met al die boodskappe van die skool en voel dit regtig of ek vryskutwerk doen net sodat ek die skool se kommunikasie kan deurwerk. Ek weier om nou uiting te gee aan iets wat vir my lekker is. Die muiskombersie groei nie en is nie eens ʼn gedagte nie.

Stadig maar seker bly sien ek die bruin wol in my geestesoog en pla dit my dat daar iets onvoltooid in die sak lê. Halfhartig begin ek weer hekel, bangerig en skuldig omdat ek iets doen wat vir my lekker is. Gou verdwyn die skuldgevoel en maak plek vir verslawing. Muiskombersie begin raak nou ʼn katkombersie. In die kar terwyl ek wag vir ʼn kind, voor die televisie, in die bed as die slaap nie wil kom nie. My ma se woorde bly die mantra in my kop: “Ses kettinkies, duik in met drie langbene en as jy by die einde kom, blaai hom om soos ʼn Huisgenoot.”

Dinge wat ek baie graag wil sê maar wat eerder moet bly, word vasgewerk in groepies van drie langbene en vasgebind met ʼn kettinkie. As ek dink aan nog ʼn hap woorde, maak ek weer drie langbene en bind hulle ook in nog ʼn groepie vas. Daar is rye en rye wat aaneen hardloop met woede opgedeel in groepies van drie langbene. Daarna was daar ʼn paar rye gehekel in Namibië, wat vreugde en absolute vrede in groepies van drie vasvang. Die vakansie wat dowwer begin raak het met ʼn derde kwartaal wat weer skerp in die oë skyn het die werkstasies weer geskuif na die kar en saans voor die televisie. Die vreedsame groepies bondeltjies is nou ver ondertoe af en die nuwes maak weer plek vir ander onaangename gevoelens.

Elke bekommernis word gebind, elke mooi word vasgevang, die halwe kombers groei. Hy gaan saam handwerkklas toe en drink saam koffie en hoor hoe almal se week was. Hy kan nou al ʼn groterige hond toemaak en het definitief al ʼn lewe van sy eie.

Toe my ma kom kuier het, kon sy my help om weer steke te verminder om die kombers af te eindig. Die nuwe herhaling steek weer in my kop vas.

Die aand voor die televisie toe ek die laaste los wolletjies afknip en die kombers oprol om in die mandjie te sit, was daar ʼn klein oorwinninkie. Dis nie net ʼn kombers nie, dis ʼn huisvriend. Met my hekelpen het ek my hele hart oopgeboor en saam met die wol ingeweef sodat die huismense onder om kan inkruip.

Ek besef net weer eens: Dit vat baie lank om ʼn kombers te hekel. Maar hierdie kombers is my oë en hart as ek lankal nie meer hier is nie, om die mense se mense se mense vir wie ek so lief is warm en veilig te hou.

Facebook
WhatsApp

This Post Has One Comment

  1. Lida

    Die skrywe kon net so wel uit my pen gekom het❤️❤️❤️

Leave a Reply