Hennie het op 18 Mei sy vyfde verjaardagkoek se kersies doodgeblaas. Hy en Jan stap al die pad saam van graad R af. Eers was dit huiswerk in die middae, toe word daar geleer lees en Jan wou nooit Hennie se lyf skuif as hy oor die boek lê nie, daardie deel van die storie was bloot net onnodige inligting. As Jan te lank agter die boeke sit om vir ʼn toets te leer raak Hennie woelig en teen sy histeriese trant kan ons dan aflei dis tyd vir asemskep. Die twee maak mekaar se sinne klaar, gesels lang stories, bou Lego en droom drome.
Tot onlangs het ons nog gedink daar is ʼn sweempie van arrogansie in Hennie se houding omdat ons gedink het hy moedswillig in die huis mors, maar toe ek eers sien hoe hy sukkel om by die trappe af te loop en in goed vasloop het ons die kind maar dokter toe gevat. Om die duur uitstappie uit te stel het ek eers vir ʼn rukkie vir hom ʼn “man bun” gemaak om seker te maak dis nie miskien hare in sy oë wat hom pla nie, maar helaas het ons voor die dokter en haar baie liggies gestaan.
Met groot oë het almal vir my en Hennie ingewag en ek moes dadelik die nuus so saggies moontlik breek. Jan was al gereed om ʼn hospitaalsak te pak, want hy was oortuig dat sy sig met chirurgie kon reggemaak word. Die opsies van ʼn hondebril of AI-ogies uit Amerika het ook nie sy gedagtes ontglip nie. Nadat ek so deeglik moontlik verduidelik het wat retinale loslating beteken en almal verseker dat daar niks is wat die dokters kan doen nie, was daar ʼn paar oomblikke van besef en stilte. Dis ʼn naar kol wat eweskielik kom plek maak waar hy nie eintlik welkom is nie. Die onwelkome gedagte dat mens aan iets slegs moet gewoond raak wil ek net uitvee met ʼn besem, maar ek kan nie. Die nuwe gedagte moet nou insink en kom lê tussen ons. Na al die vrae en trane was die feite op die tafel nog steeds dieselfde, maar die hartseer hou aan kom en ons besef ons moet baie vinnig gewoond raak hieraan. Ek wou dit vir Jan spaar, maar my hande was afgekap. Ek het die dokter se boodskap mooi herhaal en gesê ons moenie meubels rondskuif nie en dat ons sy selfvertroue moet help opbou en hom nie te veel ronddra terwyl hy nog ʼn mate van sig het nie.
Die wind was uit Jan se seile en ek het nie geweet wanneer dit weer sal terugkom nie. Die jaar het reeds nie voorspoedig afgeskop nie, nou dit ook nog. Al sy trane en deurmekaar vrae was soos ʼn “snow globe” wat geskud word, toe al die vlokkies lêplek gekry het, kon hy weer oorskuif na ʼn vars rat.
ʼn Rukkie later kom ek op hom af waar hy naarstigtelik en proaktief sit en soek vir ʼn stootwaentjie. ʼn Paar dae later is die waentjie afgelewer en hy het ook ʼn neon bal en “clickers” gekry om die lewe vir sy vriend gemakliker te maak.
Net toe ek dink die groot dinge is te groot vir ʼn 11-jarige, toe moet ek eers weer bietjie nederig ekskuus sê, want ek het hom weer eens onderskat. In ʼn onderstebo jaar kom leer Jan my: Daar is altyd ʼn plan en daar is altyd hoop.

