Iets nuut

Ek het dit bietjie uitgestel om te kom sit voor ʼn wit skerm en om dinge op skrif te stel sodat ek kan sin maak. My brein het dit nodig, dit is seker soos wat ʼn drawwer moet voel wat nou vasgekeer sit op ʼn vliegtuig. Ek het tyd probeer koop, want ek weet nie eintlik watse sin daar te make is van ʼn onderstebo-jaar nie. Ons is nou hier. Dit is wat dit is.

Gewoonlik as ons langs die see stap en die laaste Kersfees-oorskiet is opgeëet, begin ek wonder oor wat ek vir myself wil hê vir die nuwe jaar en stel ʼn paar doelwitte wat my nie te erg hoogtevrees gee nie. Dit wat ek vir myself uitdink en voor my hou is maklik genoeg om nie teen Junie soos ʼn mislukking te voel nie. Goed soos: maak tyd vir jouself, wees sag met jouself, lees meer, ontdek nuwe resepte. Nou lyk daardie voornemings soos kleuterskool teenoor wat ek in die gesig gestaar het nog voor die skool begin het.

Die een wat deur ʼn Whatsapp my irritasie kon ruik, weet wat ek dink en droom en vir wie ek kan bel vir kosidee’s, mooimaakidee’s, afpak en lugkastele mee saamgebou het, het onverwags en saggies na die anderkant beweeg. Nou is daar ʼn dik mis tussen ons en eers toe ek sonder hom moes probeer asemhaal en gewone doendinge doen, het ek besef hoe deel hy van my is. Ek het nog nooit gedink hoe handig my bene en arms is nie, tot ek hulle nie meer het nie. Eweskielik is eenvoudige goed moeilik, selfs om net normaal asem te haal of te slaap. Hoekom kom lê daar so ʼn onrustigheid in my as ek weet hy is die een wat eintlik veilig is en nie meer bekommernisse het nie?

Die aarde hou aan om om sy eie as te draai en siele bly gedurig aanbeweeg huis toe, maar dit bly ʼn wildvreemde ervaring om eweskielik so verlate en half te voel. Ek is bewus van my ledemate wat nie meer lekker in plek sit nie en my hart met sy hoë heinings wat nie meer plek maak vir inkom nie.

Af-arms, af-bene, af-emosies. Die heelal laat beweeg party op en in dieselfde proses werk swaartekrag sterker in op dié wat agterbly. Plat op die grond is nie altyd ʼn lekker plek om te wees nie. Mens sien niks anders raak nie, net die krake op die vloer. Te hoog opstyg is ook nie ʼn goeie ding nie, daar moet ʼn bewustheid wees van grond en hemel op dieselfde tyd, maar tans is my balans nie wat dit moet wees nie en die val is nie net een keer nie. Elke liedjie, foto, herinnering of reuk is weer ʼn harde val van voor af. Dit sou nice gewees het om te weet wanneer dit kom, maar mens weet nie. Ek weet wel dit kom wanneer ek dit die minste verwag.

Met Paasnaweek was ons op die plaas, daar waar die stilte gehoor kan word en mens nie op horlosies hoef te kyk nie. Die veld staan dankbaar, na ʼn lang droë tyd, dig toe onder ʼn sagte groen graskombers. Water lê in die groot pad en baie ooie spog nou met tweelinglammers, als te danke aan die goeie reën. Voor dit het die diere maar gevat wat die veld gebied het en daarvolgens aangepas. Saans as ons klaar geëet het kon ons uitstap onder die stoep uit en die sterre helder sien, daar waar nie vlieswolkies was nie. Ek het besef ek kyk weer op na ʼn lang ruk. Die aarde het nooit ophou draai nie, niks het stilgestaan nie en die tyd van val en opstaan het tog al ʼn bietjie ligter en minder seer begin word.

Donderdag het Ben oudergewoonte nie rugby toegaan nie, want hy mis sy kunsklas vir niks in die wêreld nie. Dit was ʼn spesiale dag, want hy kon sy nuwe projek aanpak met oom Derick se verf en verfkwaste. Jan het een van oom Derick se voëltjies met klatergoud klaargemaak, dit was van die los goedjies wat ook in die verfboks was.

Ek kan nie met sekerheid sê dat dit makliker is om vorentoe te beweeg sonder hom nie, maar die nuwe vreemdheid waar hy plekke vind in ons lewens vind tog hul holtes, soos in Ben se kuns, Jan se handwerk en die helder sterre. Dis definitief ʼn beter prentjie as om na die krake op die vloer te kyk.

Facebook
WhatsApp

Leave a Reply