Hulle sê oudword is nie vir sissies nie, dit kom met ‘n pakkie wat soms te swaar voel om self te dra en ongenooide skete wat kom kuier in knieë, heupe en jou gedagtes kom deurmekaar gooi soos ‘n sterk wind wat ‘n stapel papiere optel en oor die vloer strooi.
Meeste mense is bewus van hul verganklikheid en dit word meer uitgelig hoe nader jy aan die groot getalle kom. Maar om bewus van jou einde te wees en dit te omarm, is ‘n soort kuns wat min gewaar word.
Ek was vir ‘n week by my ma en haar susters in die aftree-oord, dit klink dalk nie vreeslik opwindend op die oog af nie, dalk selfs somber en neerdrukkend. Ek het mos vooraf geweet waarheen ek gaan en wat om te verwag, maar min het ek geweet dat ek ‘n paar dinge sou leer by hulle. As kind het ek nooit geweet waaroor om met oumense te gesels nie, ons woordeskat was wêrelde uit mekaar en ek wou niks hoor van seer knieë en stink salf nie, daar was meer opwindende onderwerpe waaraan ek kon dink. Ons spoed het verskil, hulle was uit die hamsterwiel, ek was op volspoed, hulle het die slaggate gesien ver in die pad en vir my was enigiets denkbaar moontlik, ‘n “nee” het makliker vir hulle gekom en ‘n “ja” was die antwoord waarna ek die vinnigste gegryp het. Hulle het dood en verlies gesien, ek het lewe en aanwins gesien. Dus het ek gevoel ons paaie sal nie sommer kruis nie, ons dink te anders en miskien het ek net nie ‘n oumenshart nie. Ander mense is beter daarmee, ek kan my toespits op iets heeltemal anders. Soos die snaakse lewe met sy skerp sin vir humor dit wil hê, was daar maar nog gedurig ‘n gerrimpelde hand wat aan my deur kom klop het en ‘n krom voetjie wat kom trap-trap langs my spore. Ek het gedink dit was seker dan maar beter om in te gee en my voete in hul sagte apteekskoene te steek en die lewe deur hulle oë te ervaar.
Vroeg reeds is ek oor die vingers getik oor die gebruik van die woord “ouetehuis”. “Nee Laan, ons bly in ‘n aftree-oord”. ‘n Paar keer het ek nog my mond verby gepraat en ‘n kyk gekry, maar het dit later darem onder die knie gekry. Daar moes ook ‘n nuwe woord geskep word vir die tipe mense wat ek by die aftree-oord mee te doen gehad het, want hulle het nie gepas by die prentjie van “oumense” nie. Ek het hulle dus “krimpies” gedoop. Krimpies kan nog oor die weg kom, koekies bak, konfyt kook, in die tuin krap, naaldwerk doen, boeke verslind en reëlings tref om oor en weer te kuier. Krimpies gee om vir mekaar en deel raad vir enige ding, van ‘n benoude bors tot wifi-opvangs. Hulle beur mekaar op, maak grappies en praat van ander mense wat meer geneig is tot klagtes as “oumense”. Krimpies kan selfs al met looprame loop en nog steeds kwalifiseer as krimpies, omdat hul oë blink en hulle mekaar vriendelik groet en belangstel in ander se lief en leed. Ek het tot die besef gekom dat mens dus in jou dertigs kan wees en al die titel van “oumens” beklee.

Die mooiste wat die krimpie-susters doen is deel. Hulle kos is almal se kos en daar word saam geëet. Hulle legkaarte is almal s’n, want daar word saam gebou. Vrugte is almal s’n, want daar word saam gewerk en konfyt gekook en bottels gedeel onder mekaar na die tyd.
Elkeen het ‘n pad gehad tot hier. Elkeen se pad was vol dorings en gate, wat meestal alleen moes aangedurf word. Verlies, spyt, moeilike besluite, nog verlies en nog seer. Dit het nie weggegaan nie, dit lê net op die bodem van die spreekwoordelike trifle. Bo-op daardie koekielaag lê teedrink in ‘n sonkol wat soos jellie voel, bo-oor dit kom nog lae jellie-blokkies wat al die saamwerk en uitstappies is, dan volg die vla wat die daaglikse inloer is en heel bo-op die room, die eindelose gelag vir enige ding denkbaar.
Om ‘n grondpadlewe te omraam met humor, laat lyk dit eintlik na ‘n teerpadlewe. Ek het dinge uit verskillende hoeke bedink oor hoe ek op die beste manier my verliese kan hanteer en duidelik het my planne tot dusver nog nie veel sukses opgelewer nie. Ek wou vreeslik graag een ding op ‘n slag doen, voor ek aanbeweeg na die lekkerder dele. Die krimpies se trifle het my laat besef die hele poeding is ek en ek dra alles oral saam met my. Die roombolle bo is nie ‘n rookskerm of voorgee nie, dit maak net alles sagter en mooier.

