Nadat ek ʼn kuier in die Kalahari by my liewe niggie gehad het, het ek met nuwe lus en ywer na my huis teruggekeer om alle hoekies weer te organiseer en beter te rangskik. My mooi hoekies het ʼn geneigdheid om versamelpunte te word van kleingeld, penne wat nie lekker skryf nie, ou strokies wat ek nog as belangrik ag om te bêre en ʼn albaster of ʼn slymerige bal of twee. Tussen die vrugte, tussen my plante, tussen die mooigoed, oral loer daar iets uit wat nie eintlik pas nie.
Die een ding het tot die volgende gelei, en toe ek myself weer kom kry, staan ek op ʼn stoel en haal my konfyte af. Party van hulle is nog kwepers wat my ouma vir my gegee het toe sy nog gelewe het. Daar is ʼn bottel perskes wat ek by my tannie gekry het in 2012 vir Kersfees en ʼn hele versameling groenboontjies en ander botteltjies met donker inhoud wat ek nie meer kan uitken nie. Nou lyk dit soos botteltjies wat hoort in ʼn wetenskapklas, eerder as ʼn kombuis. Die helder, vriendelike perskes het verdonker en lyk nou soos iets wat ʼn kind sal bangmaak en die konfyte is bes moontlik almal net skoon heilige suiker. Van te jammer voel om dit dadelik oop te maak en omdat dit so mooi lyk, het nie een bottel se deksel oopgegaan nie. Hulle moes daar staan en meer raak oor die jare en die idee skep van geselligheid en nostalgie, maar ek was te suinig om dit met my gaste te deel. Hulle ken nie my ouma Ella nie, hulle sal dit nie waardeer soos ek dit waardeer nie. Hulle ken nie vir tannie Erika nie, hulle sal net van daardie mooi, blink, oranje perskes oor los en dit sal my net vies maak.
So het die familie se bottels maar gegroei. Elkeen het ʼn storie. Elkeen is met liefde geseël en gebottel tydens ʼn kooksessie. Daar was oor en weer op die familiegroep gereël oor wie kom help kwepers inlê, wie het glas bottels om te skenk, want daar is weer ʼn boks druiwe wat bewerk kan word. Bestellings is geneem en logistieke planne is beraam om weer die vol bottels by hul nuwe huise te kry. Ek kan mos nie raak daaraan nie. Daai bottels is heilig. Dit is gebottelde familie. Gepreserveerde liefde. Die oomblik wat die seël gebreek is, is dit iets wat yskas toe moet gaan en mildelik op ʼn sny brood gesmeer word.
Maar tog staan ek soos ʼn mal mens vanaand op ʼn stoel en pak een vir een af om plek te maak vir ander goed. Die konfyte moet nou asblik toe, hulle tyd is verby en my pakplek is beperk. Ek dink aan al die kere wat ons gebraai het waar ek ʼn bottel kon oopmaak by ʼn vars warm broodjie en gebottelde liefde met my vriende gedeel het. Om al jou bestes te gebruik en te geniet is makliker gesê as gedaan. Daar gaan mos ʼn beter dag wees. Die beste dag ooit. Op daai dag maak ek ʼn botteltjie oop. ʼn Gewone weeksdag verdien nie om gevier te word nie, dis mos nie ʼn regte dag nie, dis net ʼn roetine-werksdag. Naweke is ook nie altyd die beste naweke nie, want partykeer is dit te besig en dan wil ek nie in die harwar sommer ʼn botteltjie gryp en dit oopmaak nie, dis nie baie respektabel nie en doen nie die moeite wat daarin gegaan het gestand nie.
Maar dan moet hierdie onoopgemaakte liefdes hul weg vind na die asblik sonder dat hulle geproe kon word. Hulle het net kom kuier vir ʼn paar jaar in my kombuis sonder om deur my slukderm te gaan.
Miskien is dit een van die vele gesigte van liefde: om iets te maak en dan uit te deel. Net jammer die uitdeel het by my gestop.
Ek het nou net 3 vars bottels in my kombuis en gaan poog om dit sommer in die week oop te maak. Sousbone op ʼn Woensdag, olywe op ʼn Donderdag en kweperkonfyt op ʼn Vrydag. Al is hierdie bottels vir my hoe spesiaal, hulle gaan nie saam hemel toe nie. Hulle bly net hier.
Daar word meer as genoeg mooi uitgedeel, dit moet net ontvang én oopgemaak word om te kan lewe kry.

