Soos die jaar besig is om op suurstof te lê en ons die dae aftel vir wanneer ons handdoeke en swemklere kan pak, raak my voete al hoe swaarder.
Elke oggend is hulle ‘n bietjie swaarder. Ek dink nie ek neem aan ‘n maraton deel nie en ek poog nie eens om te kompeteer nie, hierdie is ‘n stryd tussen my en November.
Klein alledaagse goedjies is oorweldigend en my kop is ‘n mallemeule van Kersgeskenke, tinsel, lysies en afsluitings.
Dis nie net geskenke wat toegedraai en verpak moet word nie, dis die jaar ook. Voor ons die karavaan kan haak, moet die jaar ook eers verpak word. Alles moet toegedraai word en netjies wag tot Januarie. Ons weet nog nie hoe ons die pakkie in Januarie gaan hanteer nie, daarom is weggaan so broodnodig, sodat kan gaan perspektief kry by die soutwaters!
So met die swaar voete wat by die dag al hoe moeiliker is om die een voor die ander een sit en eintlik eerder net oormekaar wil kruis of hoog op ‘n tafeltjie wil rus, is ek nogal heel bewus van swaartekrag.
Daar lê beslis krag in swaartekrag. Dis so nodig om swaar te wees sodat voete vas kan staan. Ligte voete wat nie gewigte aanhet nie, styg gou op. Die geringste bevordering, maak hulle al hoe ligter. Soos ‘n lugballon wat sandsakke afgooi raak dit al hoe ligter en makliker om die hoogte in vaar. Voete wat hoog vlieg beweeg al hoe verder weg van wat sin maak, want die aarde begin raak al hoe kleiner.
Prestasies en mylpale wat behaal word, word eweskielik die sandsakke wat afgegooi word, sodat die lugballon op sy eie solo vaart kan gaan.
As daar enigsins moeilikheid oor daai lugballon se pad kom, gaan hy nie ondersteuning hê nie.
Die gedagte aan alleen vlieg bring my terug aarde toe en hoe belangrik swaar voete is.
Dis belangrik om in ‘n lyf te lewe wat weet waar my voete is. Dis belangrik om gemaklik te wees met waar ek myself bevind. My kop en hart moet vriende wees en my voete op hul plek hou. Dis belangrik om nie myself te probeer bewys of meer te wil hê as wat ek het nie, dit is sandsakke wat my tevredenheid weggooi om te styg na hoë lugleemtes. Dis belangrik om te besef dat waar ek is, maak saak en dat dit okei is as dinge nie gedurig verander vir afleiding of my eie genot nie.
Dit is belangrik dat ek moet besef dat geluk nie van buite kom nie, dit lê reeds binne, op die bodem, aan die onderkant van my voete, waar my wortels ingeskiet is en waar ek my krag vandaan kry. Daardie beginpunt wat my kompas is en vir my sê waar ek is en waar ek hoort. My wortels maak klein vertakkings en draai om klein oomblikke en kry voeding soos wat grond van mikroörganismes afhanklik is.
Seëninge is sandsakke wat my moet aftrek grond toe en nie oorgegooi moet word sodat ek begin styg nie. Hoe meer dinge daar is om voor dankbaar te wees, hoe laer moet ek buig en hoe swaarder moet my voete word.
Sandsakke wat oor die wal gegooi word, moet my nie verwaand maak nie, alhoewel dit maklik gebeur as daai lugballon se mandjie al hoe ligter begin raak. Nee, ek moet gegrond bly.
Soos wat ek die einde van die jaar aan my lyf voel, is ek dankbaar vir ‘n dol maand.
Dit laat besef my ons is nog ‘n jaar gespaar en dis nie per ongeluk nie, dis ‘n sandsak wat doelbewus in my mandjie gesit word, saam met ‘n hele paar ander soos verhoudings, egtheid, onthou-oomblikke, lekker vakansies, kinders wat lag, reën, cuddles met my hond en dat ons elke dag die jaar kos op te tafel gehad het en nog oorskiet ook na meeste etes.
Vriendelikheid en ander ongesiene mikroörganismes wat oor my pad kom, is nie daar om my te laat sweef en belangrik voel nie, dit is sandsakke wat my moet aftrek en swaarder en meer dankbaar moet maak vir onverdiende goedheid.

