Mens sal seker nooit weet waaroor mens als reg en verkeerd was nie, alles kan mos geregverdig word na smaak. Op gevoel tas almal vorentoe met die hoop dat dit wat nou gedoen word deel vorm van ʼn groter prentjie en dat as mens eendag terugkyk, dat die vreemde stukkie lewe sal sin maak.
As ek iets skryf, is dit om sin te maak van my binneste. Twyfel, angs, vrees, vrede dankbaarheid, vreugde, drome en spyt word alles uitmekaar gehaal nadat dit vir ʼn lang ruk in die laai een deurmekaarspul geword het. Dis ʼn sop van gevoelens, wat nie saam hoort nie. Twyfel hoort op sy eie, hy sal altyd daar wees, maar hy kan nie langs drome lê nie. Hy gaan net maak dat drome al hoe kleiner word en sy suurstof steel. Eintlik moet drome sommer op ʼn oop rak iewers lê, waar ek dit gereeld kan sien en dat lig kan kry, anders raak dit vergete en begin muf dit daar in die duister.
By vreugde en dankbaarheid is klomp stukke vrees. Die klou soos luise en ek moet dit een vir een afhaal, want ek kan sien dit is besig om baie van vreugde en dankbaarheid se lig te steel. Ek wil nie bang wees nie, maar partykeer maak ek die bakkie oop en vergeet om dit weer dig toe te maak en voor ek my kom kry is daar swart kolle op alles wat mooi en goed is.
Vrede lê in die hoekie heel agter, onaangeraak, maar ook in onbruik. Ek kry half die idee dat vrede wag vir eendag, vir ʼn spesiale dag as ek al die ander houers en bakkies opgebruik het. Vrede wag vir as ek my lewe geleef het en ek kan rustig sit en tuur oor die see sonder bekommernisse. Ek wil dan elke dag vrede ervaar in sy volle glorie en nooit ooit weer te doen hê met vrees en twyfel nie, hulle moet nou gesmoor word.
Eintlik sal dit nice wees as ek elke dag ʼn rustigheid oor my kan hê. Iets wat meer plek opneem as angs en twyfel wat so kom klou en infiltreer.
Ek begin breek vrede op in stukkies en vryf dit saam met dankbaarheid, vreugde en drome – soos kleibolletjies. Hulle is maats, hulle hoort saam. Dit is mos hoe ʼn mens dinge orden, jy pak dinge wat bymekaar hoort, saam.
Dit het my nie te lank gevat om die laai reg te pak nie, en dit het my ook nie te lank gevat om hom so deurmekaar te kry nie. ʼn Goeie regpak laat voel my goed. Nou kan ek eers weer ʼn bietjie asem skep.

