Na ʼn jaar se tande kners en voortstoom het ons gaan lawe in die Karoo se vlaktes en ʼn draai by die see se groot waters gemaak. Die voornemens wat ek daar agter die Swartberge gaan haal het, was om dinge eenvoudig en met minder wroeging aan te pak in die nuwe komende jaar. Dis mos mooi dinge om na te streef, dis so eenvoudig en aards.
Dis mos lekker om voorbereid te wees, maar hoe voorbereid ek ook al is, is nooit genoeg vir dit wat kom nie. Al wat ek weet is dat niks naby realiteit kom nie, dis beslis vreemder as fiksie.
Alles stort in oorvloed neer: vrae, nood, kontrasterende waarhede. Dis om elke hoek en draai. Elkeen se swaar lyk anders, maar niemand het dit juis lig en maklik nie.
Ek moet diplomaties en reg antwoord as ʼn kind ʼn belangrike vraag vra, soos: As kuns dan kuns is, hoekom word dit gejugdge en bepunt?
Met elke sonsondergang en nog ʼn dag wat groet, besef ek hoe min ek weet. In die grootsheid van ʼn inligting-era, ʼn era wat veronderstel is om maklik en vinnig te wees, begin raak dit vir my moeiliker om kop of stert uit te maak en die waarheid tussen al die rommel uit te krap.
Oral waar jy kyk is reëls, so baie reëls, wenke, stappe wat jy kan neem om in ʼn japtrap beter te lyk en te voel en te verstaan. Kortpaaie word uitgesoek na ʼn beter en blinker toekoms, terwyl almal verby die man in die middel van die straat ry wat uiteindelik weet hoe lyk moedverloor-se-vlakte.
Ek vang myself waar ek meer jammer sê vir die kinders as gewoonlik en die antwoord: “Ek weet nie” spring meer gereeld uit, want ek weet nie. Ek weet nie hoekom die oom nie ʼn werk het nie, ek weet nie hoekom jy so baie huiswerk het nie, ek weet nie hoekom hou mense so baie van ingehokte en beknopte hokkies waarin hulle ander mense wil inprop nie.
Min maak sin, dis al wat ek regtig weet. Iewers tussendeur die harwar van vraag-en-antwoord-sessies, leiding gee en helper wees, verloor ek die plot en weet nie meer so lekker of ek nog op koers is nie. Moses moes definitief ook party dae gevoel het of hy nie weet wat hy doen toe hy die Israeliete laat trek het deur die woestyn nie. Baie het nie eens die beloofde land beleef nie en het met die idee doodgegaan dat dit dalk net ʼn mite is.
Verwarring is dus nie ʼn nuwe ding nie, dit is so oud soos die mensdom self. Dit wakker dankbaarheid aan met ʼn verlangse draai. Ek weet nie als nie, maar ek weet wat ek moet weet en wat ek weet is dat ek net vir vandag genade gekry het en môre weer moet vra. As die son sy laaste strale deur die bome steek en ons sit aan tafel saam en deel ʼn sjokolade vir poeding is dit nie te sê dit gaan altyd so wees nie, maar dis die dag se genade wat ons ontvang het.
Die baie vraagtekens bo alles daar buite is meer uitputtend as ʼn volgelaaide program, ek berus maar in die wete dat die wêreld mal is en ek is dankbaar vir ʼn voordeur wat ek kan toetrek en die gejaag buite hou.

