Op skool wou ek altyd my eie hond hê, een wat alles saam met my doen en my na-aap. Die jare wat ek nog oorgehad het in die huis is vir my neergelê en wie die eintlike versorger gaan wees en dat ek nie die mas gaan opkom met die groot verantwoordelikheid nie.
Die gewag vir ‘n hondevriend moes nog bietjie rek. Tot die dag wat ek in my eie huis was.
Nou is daar drie asems, drie siele wat elkeen ‘n integrale rol in ons huis en saamwees speel.
Hennie: Ouderdom 21 in hondejare (volgens Jan mag honde se ouderdom nooit ooit in mensjare gemeet word nie, daarom raak hy briesend as ek sê Hennie is 3 jaar oud.) Hy is die ligtoring in Jan se lewe. Die beskermheer van Jan se hart, gevoelens en die skouer om op te huil en om by op te krul as daar te veel gebeur het in een dag. Hennie verstaan sy doel baie goed en dra sy naam en take met trots. Hy weet hy kan soms bietjie grense toets, want van straf en dissipline is daar geen sprake nie. Met die titel “sielsgenoot en trooster” het hy basies ‘n vrye lisensie om op die mat te skyt net wanneer hy so voel. Onaantasbaar. Huiswerk neem tyd en daarmee staan hy sy vriend by met ‘n stert op die leesboek, ‘n poot op ‘n som of ‘n lekkie aan ‘n uitdraaikryt. Sonder sy teenwoordigheid sal daar nie veel aksie wees nie.
Sophia: Die meisie van my hart. Die dogtertjie wat ek soms wens was ‘n mens-kindjie, maar sy weet dit baie goed en daarom is sy oorlaai met emosie, nes ‘n mens-kindjie. Woorde van bemoediging en fisiese aanraking is haar liefdestale. Sy moet om die uur herinner word dat sy kosbaar en spesiaal is en dat niemand anders naby haar skoonheid kom nie. Sy bad in laventel baba sjampoe en lê styf teen my rug met haar kop op my kussing. Sy loop nie self die trappe op as dit slaaptyd is nie, sy moet gedra word omdat die dag se emosies te swaar geword het om self te dra. Ek moet dan vinnig tande borsel en sorg dat ek by haar inkruip, want sy vergeet vinnig wanneer sy laas ‘n kompliment gekry het. Aandag en mooi woorde is haar dwelm.
Boompie: Die derde kind, die maklike een wat gedissiplineer word deur die grotes en wat hou van kanse vat. Hy het met sy baba-oë vir Ben bekyk en kopieer elke enkele beweging. Televisie-kyk is lekker, want dis vir Ben lekker. Rondhardloop is lekker, want dis vir Ben lekker. Inkleur en teken is lekker, want dis vir Ben lekker. Op ‘n jong ouderdom weet hy waar sy lojaliteit lê en niks of niemand sal hom van koers af kry nie. Hy stap breëbors langs sy Ben en maak stywe beentjies op die mat as sy dik babapens gekielie word.
Ek word gereeld oor die vingers getik dat ek nie 2 kinders het nie, maar 5.
Hierdie drie inkruiper wurms wat lewe om liefde te gee is gedurig onder my voete in die kombuis. Hulle maak die huis vol, hulle bring lag, hulle bring kalmte en bomenslike begrip.
Daar waar ek balle met Jan of Ben laat val, help Boompie en Hennie my baie getrou. Hulle doen wat ek nie kan nie. Daarom vergewe ek die gekoude goed en glipsies in die huis.
Ek blaai nou die dag deur my foto’s op my foon en toe val dit my nogal op. Daar is baie min foto’s waar daar nie ‘n hond inkruip nie.
Ek dink ek kan met reg sê ons is hondemense.









This Post Has One Comment
Pragtig opgesom Elana