Ek het lanklaas net gesit, want daar dwarrel tienduisend dinge in my kop en as my lyf tot ruste kom, gaan daar aan elke gedagte aandag gegee moet word.
Ek sukkel om die mengsel van gevoelens te verwoord en op te som. Gewoonlik as ek iets neerpen en dit vir myself analiseer, lyk dinge beter. Maar nou wil ʼn opsomming of ʼn gevolgtrekking nie eintlik na my kant toe kom nie.
Terwyl tyd nie my eie is nie en ek dinge op lysies (die ewige lysies) afmerk, kry die lysies babas, want lysies is lief vir ander lysies en so word die lysies nie minder nie. ʼn Gevoel van genoegdoening en tevredenheid was iets wat ek lanklaas ervaar het. Dis of sielsalige rus met ʼn vakansie of ʼn wasgoedbondel vol gevoelens en doendinge.
Die rukkies wat ek wel het om te sit gebruik ek ook nie baie slim nie. Ek sit en kyk video’s van hoe hondjies potty train op Instagram of hoe ʼn kat ʼn vuil kyk vir sy eienaar gee.
Die woord “vanilla” kom meer as een keer per week by my op met verwysings na alle areas wat kan doen met meer eksotiese geure. Maar in dieselfde gedagte dink ek ook hoeveel moeite eksotiese geure op hierdie stadium van my lewe moet wees en dat ek myself maar eerder moet troos met die betroubare “vanilla”.
Ek vermy negatiwiteit, want ek wil nie olie op die vuur gooi nie, maar ek loop ook maar sirkels om uitermate positiwiteit, want net-nou is ek die skuldige wat ʼn tenk leeg tap.
Ek is bang om te sit, want sit voel soos admin. Lêers liasseer, ou goed weggooi, onnodige goed asblik toe, herontdek weer ʼn paar bruikbare dinge. Pak reg, stof af. Dit vra vir moue oprol en intensiteit. Intensiteit wat nie nou in my beendere beweeg nie.
Wat ek wel agtergekom het is dat sit nie sleg is as mens dit nie alleen hoef te doen nie. As ek vir die Here sê hoekom ek vir Hom kwaad is, hoekom ek vrae het, hoekom ek moeg is, is my binnegoed darem op die tafel uitgegooi en ek hoef dit nie meer saam met my te dra nie. So nou en dan loop ek verby die binnegoedtafel en druk weer ietsie terug sodat hy in die deurmekaar nes kan gaan lê. Ander kere betrap ʼn pligsbesef my wat sê dis tyd vir diepskoonmaak.
Ek is net dankbaar vir die winter, selfs plante en diere moet rus.

