Die afgelope ruk is ek nogal bewus van allerhande lugleegtes wat om my kop draai soos borrels. ʼn Hele vertrek vol borrels niks, amper soos ʼn badskuim-advertensie. Al verskil is, in die advertensie lyk die vrou in die bad gewoonlik heel aangedaan met die swewende borrels om haar kop.
Om baie in ʼn verhouding in te sit en niks terug te kry nie, om baie te droom en vol hoop te wees en nie ʼn mooi begin te sien nie, om in dieselfde rat te wees en geen vorentoebeweeg te ervaar nie, om baie mooi vir die Here te vra en niks te kry nie, om te wil maar nie te kan nie.
Die groot vraag wat seker daagliks op hierdie swewende bal in die ruimte gevra word is: Hoekom. Wat is die ding met al hierdie lugleegtes van stilswye en op een plek broei?
Terwyl ek die punt van lugleegtes probeer uitpluis, pak ek kosblikke, tap badwater en maak lysies vir die volgende dag se dinge wat outomaties moet aanhou loop.
Dis maklik om van stukke niks te vergeet as mens besig begin raak, tot die werk vir my hande min begin raak en die son sy kombers oor sy kop trek, dan skiet die borrels weer op.
Wanneer my planne begin opraak en ek net die borrels niks raaksien, wens ek ken kon hulle prik sodat ek kan sien of niks regtig niks is en hoekom neem dit so ʼn groot spasie op. Dit voel amper soos ʼn wind wat vassteek en as ek net ʼn lekker vet poep gee, dit verligting sal bring.
Miskien is dit dalk hoekom ek altyd my ma hoor sê het: “stilbly is ook ʼn antwoord”.
Die vriendskap wat nou niks geword het is nie eintlik niks nie, dit was dan iets. Die mooi woorde het net opgeraak. Dit word nou as ʼn begraafplaas in die hart verklaar.
Die drome wat nog nie planne geword het nie, is nie niks nie. Dis vlaggies wat wapper om my te herinner ek moet aksie neem en vinnig ook. Dis rigtingaanwysers op my padkaart.
Om in dieselfde rat te wees en nie vorentoe of agtertoe te kan beweeg nie, is nie niks nie. Dis die ophoop van my energiespens.
Om te sê: “Ek voel niks.” Is nie niks nie. Dis mure vir ekstra veiligheid en ʼn geheue wat harder praat omdat hy onthou.
Die onbeantwoorde gebede is nie niks nie. Dis lewendige boodskappe wat van my via my ma in die Noord-Kaap gestuur word en eerder rustigheid bring en liewer tog nie nou die kind se sin vir haar te gee nie. Dit bring my na nuwe waters en nuwe mense. Ek vermoed sy verdraai dalk my versoeke omdat sy en die Here van beter weet. Dié dat ek maar eerder sal aanhou om eers my gebede Noord-Kaap toe te stuur om afgeteken te word voor dit boontoe gaan.
Die borrels is my planne, my vrede en onverdiende genade. Die lugleegtes verdien ruimte, anders was daar te veel ander geraas en onbenullighede wat spasie opgeneem het.
Niks is nooit niks nie, daar is altyd iets.

